Die Musina-landdroshof in Limpopo het die 55-jarige Hester Maria Els op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat sy deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, ook bekend as die Valke, op aanklag van bedrog in hegtenis geneem is.
Lethunya Mmuroa, provinsiale woordvoerder van die Valke, het gesê Els, ‘n voormalige rekeningkundige klerk, het na bewering haar voormalige werkgewer met geld ten bedrae van nagenoeg R900 000 bedrieg.
“Daar word beweer dat die verdagte gedurende die tydperk tussen April 2018 en November 2019 as ‘n rekeningkundige klerk aangestel was wat verantwoordelik was vir die ontvangs van aankoopbestellings, fakture en die laai van krediteure vir betalings,” het Mmuroa vertel.
Sy het na bewering ‘n fiktiewe maatskappy geskep en wanvoorstellings gemaak deur die maatskappy se logo valslik te gebruik en haar persoonlike bankrekeningbesonderhede as die amptelike bankbesonderhede by te voeg.
Els het toe glo betalings in haar bankrekening onder die fiktiewe maatskappy gemaak.
“’n Interne oudit is uitgevoer en het teenstrydighede op die fakture en maatskappy se bankrekords aan die lig gebring. Tydens die oudit is vasgestel dat die maatskappy ’n verlies van meer as R896 000 gely het,” het Mmuroa gesê.
’n Saakdossier van bedrog is geopen en by Musina-polisiestasie geregistreer, voordat dit na die Polokwane-gebaseerde Valke oorgeplaas is vir verdere ondersoek.
Mmuroa het gesê die saak is deeglik ondersoek en nadat “konkrete” bewyse ingesamel is, het die Valke die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys vir ‘n beslissing.
“Daarna is ‘n lasbrief vir arrestasie teen die verdagte (Els) gemagtig. Sy is in Musina opgespoor en inhegtenis geneem,” het Mmuroa gesê.
Sy het Donderdag haar eerste verskyning in die Musina-landdroshof gemaak.
Intussen het provinsiale hoof van die Valke in Limpopo, generaal-majoor Gopz Govender die ondersoekers geprys “vir hul pogings en vaardighede wat tydens die ondersoek van hierdie saak aan die dag gelê is”.
