Toe hy Donderdag by sy ouers se plaashuis aankom nadat hulle aangeval is, het dit gelyk soos iets uit ʼn gruwelfliek, sê Gideon Roos.
Vier dae ná die wrede aanval op sy 63-jarige pa en 62-jarige ma op hul plaas naby die R44-pad buite Stellenbosch, sê Roos dit voel steeds soos ʼn nagmerrie waaruit ʼn mens net nie kan wakker word nie.
“Die emosie van woede en hartseer is oorheersend.”
Die 32-jarige Roos het op die plaas grootgeword en is die sewende geslag wat daar boer. Hy en sy vrou woon sowat 500m van sy ouers op die plaas.
Hy het Donderdag omstreeks 04:00 wakker geword van sy ouers se Jack Russell wat aanhoudend blaf. “Hy doen dit baie, maar ons skaaphond het begin grom, wat hy nie gewoonlik doen nie.”
Roos se ma is met traangas in die gesig gespuit en die egpaar is albei met ʼn koevoet aangerand. Roos sê sy pa se een arm is op twee plekke gebreek.
Die verdagtes het sy ma na die badkamer geneem waar sy haarself toegesluit het. Ná ʼn rukkie het sy deur die venster geklim en die paniekknoppie gedruk. Beamptes van ʼn veiligheidsmaatskappy het gereageer en die polisie is ontbied.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die aanvallers het ʼn heining van die perseel geknip om toegang tot die plaas te verkry, waarna hulle deur ʼn venster in die braaikamer ingebreek het.
Die egpaar is na die Mediclinic op Stellenbosch geneem, waar die man steeds in die intensiewesorgeenheid behandel word. Roos sê sy pa sou Maandag geopereer word, maar dié operasie sal nou eers Donderdag gedoen word om hom tyd te gee om sterker te word. Sy ma is ontslaan en sterk by hom en sy vrou aan.
Roos beoog nou om die gemeenskap bymekaar te bring deur ʼn optog te reël ter ondersteuning van “elke boer en sy familie”.
