Garsfontein man verloor sy lewe in huisroof

“Nag my vrou, ek is lief vir jou.” Luan Robberts se laaste woorde voor hy aan die hand van huisrowers gesterf het.

Luan (45), is Maandagoggend omstreeks 03:30 deur twee gewapende rowers in hul huurhuis in Garsfontein in Pretoria-Oos doodgeskiet. Die egpaar se selfone, skootrekenaars, juwele, ammunisie en kontant is in die voorval gebuit.

CCTV beeldmatriaal het gewys hoe die rowers oor die bure se muur gespring het om dié erf te betree. Die rowers het vermoedelik toegang tot die huis verkry deur die veiligheidshek by die agterdeur te knip en daardeur te kruip.

Volgens Robberts het haar man vroegoggend opgestaan en by die agterdeur gaan rook. Hy was skaars weer terug in die bed toe twee rowers hul kamerlig aangeskakel het.

Die gepaar is beveel om stil te lê en is gedreig dat hulle doodgemaak sou word. Een rower het aand Mev. Robberts se kant van die bed gestaan en die ander een met ‘n mes by Luan. Luan het probeer opstaan, maar die rowers het ‘n skoot afgevuur en daarna is die egpaar se hande vasgebind met hul selfoonherlaaikabels.

Luan het in ‘n poging om hom en sy vrou te beveilig vir die rowers gesê hulle kan die skootrekenaar in die sitkamer neem. Mev. Robberts het herhaaldelik gehoor hoe die rowers vir Luan skree: “Ek gaan jou doodmaak!”

Die volgende oomblik het sy ‘n skoot hoor afgaan, die vloer is hard getref en toe is dit doodstil. Sy het begin gil sonder dat sy geweet het waar Luan is en of hy veilig is. Die rowers het haar kom stilmaak en gedreig om haar ook dood te maak.

Die rowers het aangedring dat Robberts die kluis waar Luan sy drie jaggewere en ammunisie gestoor het, oopsluit. Hulle wou deurentyd weet waar die “kleiner vuurwapens” is.

“Ek het vir hulle gesê ek het nie kleiner vuurwapens nie en die ammunisie is vir ʼn .22-geweer. Nog ʼn skoot het afgegaan, maar ek het net bly lê sodat hulle net kon weggaan. Ek wou net by Luan uitkom.”

“Ek het op ʼn manier die kabel gebreek waarmee hulle my hande vasgebind het. Toe ek probeer om op te staan, het een rower letterlik op my kom sit en ʼn mes teen my keel gedruk,” getuig mev Robberts.

Haar hande is daarna met die band van haar handsak vasgebind.

“Ek het net bly lê en geluister. Toe dit doodstil was het ek opgestaan en na die kamerdeur geloop. Toe ek afkyk het die drie jaggewere daar gelê. Ek dit met vasgebinde hande by die kamer ingesleep en die .22 gebruik om skote af te vuur, met die hoop dat hulle sal vlug.”

Mev Robberts kon hoor hoe die rowers op vlug slaan. Sy het haar tande gebruik om die lus van die band om haar hande los te kry. Daarna het die slaapkamervenster met die kolfkant van die .22 geweer stukkend geslaan en die magasyn leeg geskiet voor sy besef het die geweer het ‘n knaldemper op en niemand kan die skote hoor nie.

Sy het die knaldemper verwyder en nog skote afgevuur wat Bull Sekuriteit na die toneel laat kom het. Hulle het die nooddienste ontbied wat Luan dood verklaar het.

Luan het by Bongela Investments as ʼn bestuurder gewerk en het gereeld gereis vir werk. Sy roudiens word vandag, 7 Desember 2024 in Rustenburg gehou.

Volkskrag se innige simpatie vergesel Mev Robberts en die familie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui