ALPHA Wiskunde: Lichtenburg Hoërskool se uitblinker

Ons is ongelooflik trots op Dourend Geldenhuys, hy het algeheel 4de in die land geëindig vir Alpha Wiskunde met ‘n gemiddeld van 97%.

Baie geluk Dourend, die Liggies is baie trots op jou.

Baie geluk ook aan juf. Madelein Odendaal wat sy Alpha Wiskunde onderwyser was, dankie vir al juffrou se tyd en moeite!”

***************************************************************************************************************

Die ontstaan van Alpha Wiskunde is genoodsaak deur die breë kurrikulum verandering waartydens die ou Senior Sertifikaat (met hoër- en standaardgraad vakke) vervang is deur die huidige Nasionale Senior Sertifikaat. Die eerste matrieks het die nuwe matriekeksamen in 2008 geskryf.

Reeds in die tagtigerjare het die GMR (Gemeenskaplike matrikulasieraad) die vak Addisionele Wiskunde geëksamineer. Hierdie was ʼn erkende matriek sewende vak en het ook op kandidate se matrieksertifikaat verskyn. Sedert 1990 het die provinsies die vak begin eksamineer en is Addisionele Wiskunde deur beide die staat en die IEB (Independant Examination Board) geëksamineer tot 2007. Sedert 2008 het die vak soos menige ander nie meer senior sertifikaat status nie en verskyn nie meer op ʼn leerder se matrieksertifikaat nie.

Wiskunde onderwysers van beide die staat en privaat skole het aanvanklik saamgewerk om die vak se amptelike status terug te kry. Ondanks die IEB se pogings was dit vinnig duidelik dat die departement van onderwys nie aan een van die vakke amptelike status gaan verleen nie, vandaar het twee kurrikulums ontstaan. Eerstens Alpha Wiskunde wat grotendeels die ou Addisionele wiskunde kurrikulum verfyn het en Gevorderde Program Wiskunde (APM – Advanced Programme Mathematics). Die groot koste verbonde aan die skryf van die APM eindeksamen was een van die redes waarom Alpha Wiskunde ontstaan het as alternatief vir staatskole.

 Beide kurrikulums het vanuit Addisionele wiskunde ontstaan met die groot verskil dat Alpha geen keuse modules het nie en al die onderwerpe verpligtend is. Beide kurrikulums het Calculus as basis en met enkele ander oorvleuelings kom hul omtrent 80% ooreen. Die een is verseker nie ondergeskik aan die ander nie. Alpha, net soos APM, word sterk deur tersiêre instansies soos onder andere UP en die Pukke aanbeveel.

“As iemand wat betrokke was by die skryf van beide kurrikula en iemand met ʼn PhD in wiskunde kurrikulering in hoërskole kan ek onomwonde stel dat die een kurrikulum nie ondergeskik is aan die ander nie. Ek is ook reeds vir baie jare (sedert 2000) betrokke by die moderering van al drie hierdie vraestelle (Addisionele wiskunde en later Alpha en APM). Die kurrikulum vir Alpha en APM strek van gr 10 tot 12.”

Daar is nou ook boeke vir gr 8 en 9, maar dit is nie noodsaaklik vir gr 10 nie. Hierdie boeke dek wiskunde wat nie in die skool gedoen word nie (soos lineêre programmering, ander getallestelsels), logika en probleemoplossings tegnieke.

Alpha Wiskunde en APM word by meeste skole deur die senior wiskunde onderwysers onderrig en bedryf. Die doel is primêr om leerders toegang tot gevorderde wiskunde te gee en hul beter voor te berei vir universiteit. Daar is tans kandidate van 7 van die 9 provinsies wat Alpha wiskunde aan die einde van graad 12 skryf.

Kandidate wat Alpha of APM skryf ontvang ʼn afsonderlike sertifikaat daarvoor. Alpha en APM is ook tans die enigste instansies wat ʼn matriek eindeksamen aanbied. Beide vakke word in Afrikaans en Engels geëksamineer.

Jana Rossouw, leerder van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, het 199 uit 200 behaal, oftewel 99,5% in vanjaar se Alpha Wiskunde-eindeksamen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui