IPL krieket 2025 veiling: 14 Suid-Afrikaners gaan speel

Altesaam 14 Suid-Afrikaners het ‘n nuwe tuiste in die Indiese Premierliga (IPL) gevind ná twee uitgebreide dae van megaveiling in Jeddah, Saoedi-Arabië.

Die 2025-uitgawe van die IPL sal van 14 Maart 2025 tot die eindstryd, geskeduleer vir 25 Mei, strek. Dit is nege opeenvolgende weke van “franchise”-krieketaksie met geen internasionale krieket wat op daardie tydstip geskeduleer is nie.

Die uitgebreide toernooi het ook ‘n ewe uitgerekte veiling gehad, wat oor ses sessies en twee dae plaasgevind het om op 577 krieketspelers te bie, van wie die meeste hul name in hoop eerder as sekerheid neergesit het.

Die mega-veiling vind elke drie jaar plaas, met mini-veilings wat in die jare tussenin plaasvind.

Die Indiese paaltjiewagter-kolwer Rishabh Pant het na vore gekom as die duurste speler en het die rekord van die grootste prysetiket gebreek met ‘n betaaltjek van ‘n verbysterende R60 miljoen van die Lucknow Super Giants.

Die twee Suid-Afrikaners wat die meeste waarskynlik Pant se massiewe prys sou uitdaag, was Heinrich Klaasen en Tristan Stubbs, maar hulle is voor die megaveiling deur onderskeidelik die Sunrisers Hyderabad en Delhi Capitals behou.

Klaasen sal die grootste uitbetaling onder Suid-Afrikaanse spelers in die komende IPL-seisoen ontvang met R49,3 miljoen. Kagiso Rabada is was die onderwerp van ‘n kwaai bod voor Gujarat Titans hom gekoop het vir R21,4 miljoen.

Suid-Afrika se verhouding met die IPL uit hoofde van die SA20-toernooi het ook dividende vir ’n paar spelers gelewer. Matthew Breetzke, Ryan Rickelton en Kwena Maphaka is almal opgeraap deur die “franchises” wat hulle in die SA20 verteenwoordig.

Breetzke, wat een van die voorste lopiemakers met die kolf vir Durban se SuperGiants in die SA20 was, sal vir die Lucknow-eweknieë in die IPL uitdraf. Rickelton sal vir Mumbai Indians speel nadat hy verlede seisoen as die voorste lopiemaker in die SA20 geëindig het, nadat hy MI Kaapstad verteenwoordig het.

En hoewel die 18-jarige passensasie Kwena Maphaka nog nie kans gehad het om vir Paarl Royals op die veld te stap nie, is hy deur die Rajasthan Royals vir R3,2 miljoen opgeraap, nadat hy twee wedstryde vir Mumbai Indians gespeel het verlede seisoen.

Anrich Nortje was steeds een van die groter trekpleisters op die veiling, ondanks die gesukkel in “franchise”-krieket sedert hy aan die begin van die jaar teruggekeer het na ‘n besering, insluitend ‘n stotterende IPL-veldtog vir Delhi Capitals verlede seisoen. Hy is vir R13,9 miljoen deur die Kolkata Knight Riders opgeraap.

David Miller (Lucknow Super Giants) en Marco Jansen (Punjab Kings) was die ander groot geldinsamelaars op die veiling, met onderskeidelik R16 miljoen en R14,9 miljoen.

Ongelukkig het nie elke Suid-Afrikaner wat hul naam beskibaar gestel het ‘n koper gekry nie. Dewald Brevis, wat die afgelope paar seisoene saam met die Mumbai Indians deurgebring het, het hierdie keer nie ‘n plek gevind nie.

Nandre Burger, wat dwarsdeur sy loopbaan met ‘n besering gesukkel het, waarvan die jongste ‘n stresfraktuur in sy rug is, het ook nie ‘n bieër gekry nie, nadat hy verlede seisoen by die Rajasthan Royals deurgebring het.

‘n Groot weglating onder Suid-Afrikaanse krieketspelers was die staatmaker, linkerarm bouler Keshav Maharaj. Indië het ‘n oorvloed van draaiboul Selfs die ervare Indiese beenbreekbouler Piyush Chawla, wat byna 200 paaltjies in die IPL het, het onverkoop gebly. Maharaj se internasionale draaiboulmaat, Tabraiz Shamsi, kon ook nie ‘n IPL-tuiste vind nie.

Patrick Kruger en Nqaba Peter en Ottniel Baartman, wat die afgelope seisoen verskillende vlakke van sukses op internasionale vlak gevind het, het almal gehoor hoe hul name uitgeroep word, maar geen bod het gevolg nie.

Ongelooflik genoeg is die 13-jarige Indiese kolfsensasie Vaibhav Suryavanshi deur Rajasthan Royals gekoop. Die tiener het minder as twee maande gelede ‘n honderdtal van 58 balle teen Australië onder 19 vir Indië onder 19 in ‘n vierdaagse wedstryd gemoker.

Die Rajasthan Royals het die linkshandige kolwer vir R2,1 miljoen gekoop.

Aan die ander kant van die spektrum sal die 40-jarige voormalige Protea-kaptein Faf du Plessis ook terugkeer na die IPL nadat hy verlede seisoen die Royal Challengers Bengaluru aangevoer het. Dié keer het die Delhi Capitals die ervare man vir R4,2 miljoen opgeraap.

Die Suid-Afrika-gebore spelers Devon Conway, Glenn Phillips (wat albei nou Nieu-Seeland verteenwoordig), asook Brydon Carse (Engeland) en Bevon-John Jacobs, wat sy binnelandse krieket in Nieu-Seeland speel, is ook op die veiling opgeraap.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui