Liebenberg en sy vrou, saam met sewe ander, is in Oktober in hegtenis geneem omdat hulle na bewering beleggers uit sowat R4,5 miljard bedrieg het.
Hulle staan tereg op 42 aanklagte van bedrog, vyf van rampokkery, ses van geldwassery en verskeie ander statutêre oortredings, insluitend oortredings van die Maatskappywet 71 van 2008.
Liebenberg is in Oktober deur die likwidateurs van sy maatskappy Tariomix, beter bekend onder sy handelsnaam Forever Diamonds and Gold, daarvan beskuldig dat hulle beleggers se geld gebruik het om sy weelderige leefstyl, dobbelary, omkopery, onwettige diamanthandel en die bestuur van ‘n Ponzi-skema te finansier.
Liebenberg en sy vrou het vandag weer in die hof verskyn vir ‘n borgtogaansoek.
Liebenberg het laat gearriveer en daar is gevra dat Dezzi se borgtogaansoek eerste aangehoor word. Liebenberg het aangedui hy wil sy borgtogaansoek terughou todat Dezzi se borgtogaansoek afgehandel is. Liebenberg het gesê hy verwag dat sy borgtogaansoek as baasbrein van die bedrogspul lank sal wees. Die hof het dit goedgekeur dat haar borgtogaansoek eerste aangehoor sal word.
Liebenberg het twee maal tydens die betoog van die staat opgespring omdat hy meen die staatsaanklaer maak vals aantygings. Hy het ook die joernalis van Rapport beskuldig dat hy te na aan hom gekom het en hul reg op privaatheid geskend het.
Die landros was glad nie beïndruk nie en hom gewaarsku dat hy hom sal verwyder en dat hy nie ontwrigting in die hof sal duld nie. Hy het met sy binnekoms in die hof krete geuiter en van sy MK ondersteuners het dit beaam.
Die staat staan die borgtogaansoek van Dezzi teë. In die tyd wat sy en Louis getroud is, was sy volgens die staat op die meeste slegs 2 dae van Liebenberg af weg. Sy was in beheer van die maatskappye en die gevolglike geldvloei.
Die ondersoekbeampte het ‘n verklaring in die hof gelees wat die staat se teenkanting teen die egpaar se borgtogaansoek ondersteun.
Die hof het gehoor Desiree Liebenberg kan ‘n vlugrisiko wees en het beweerde verborge bates gebruik om die geregtelike proses te ondermyn.
Die staat het verwys na video’s waarin Louis Liebenberg aan sy sosiale media-volgelinge sê dat hy R200 miljoen vir likwidateurs en “korrupte staatsamptenare” versteek het, en verder bygevoeg dat hy net sy vrou kan vertrou.
Die staat het aangevoer dat die 50-jarige dalk weet waar die geld en ander bates na bewering deur haar man versteek is en dié inligting kan gebruik om die verhoor te ontduik.
Dit het ook in die hof aan die lig gekom dat ‘n nie-winsgewende organisasie ‘Louis Cares Foundation’ verlede Donderdag geregistreer is om regskoste en borggeld vir die beskuldigdes in te samel.
Die aanklaer het aangevoer dat, aangesien die fondse nie uit haar eie sak sou kom nie, Liebenberg geen gewetenswroeging sou hê om die borggeld te verbeur nie.
Liebenberg het glo na sy ondersteuners en sakevennote uitgereik vir finansiële ondersteuning voor sy borgtogaansoek vandag.
Liebenberg se rekeninge is deur owerhede gevries, en volgens die publikasie het hy ‘n beroep op sy gesamentlike ondernemingsvennote, insluitend die Jacob Zuma-stigting, gedoen om die besigheid te red.
Die sakeman het glo vir ‘n R5 000 “borgskap” van elkeen van sy ondersteuners gevra om regskoste en borgtog te finansier.
Die groep is verlede maand vasgetrek en aangekla van meer as 50 aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde diamantbeleggingsbedrogspul wat veroorsaak het dat duisende niksvermoedende beleggers meer as R4 miljard in 2019 verloor het.
Die ander sewe beskuldigdes is verlede maand borgtog van tussen R5 000 en R100 000 toegestaan.
Liebenberg het in haar borgtog-eedsverklaring gesê sy beoog om tereg te staan en sal onskuldig pleit op al die aanklagte teen haar.
Na ‘n kort breuk is Dezzi se aansoek om borg uitgestel tot 21 November 2024.
Liebenberg se borgtogaansoek sal op 25 November 2024 aangehoor word.
Die hofsaak vir al nege beskuldigdes keer in Februarie volgende jaar terug na die hof.
