Bomdreigente in Kaapstad: verdagte se nommer word opgespoor

’n 49-jarige man is Vrydag in hegtenis geneem in verband met bomdreigemente wat die week in Bellville, Kaapstad, gemaak is.

“Op [Maandag] is na bewering telefoonoproepe na die gemeenskapsdienssentrum by die Bellville SAPD gemaak deur ‘n onbekende man wat gedreig het dat ploftoestelle by die departement van water en sanitasie in Bellville, die Transnetgebou in Bellville-Suid en Bellville-taxistaanplek geplaas is,” het lt.kol Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Dieselfde dreigement is later op dieselfde dag telefonies na die padverkeer-noodtolvrynommer gemaak.”

‘n Ondersoek deur die Valke het die selfoonnommer opgespoor waarvandaan die oproepe gemaak is.

Die verdagte is daarna geïdentifiseer en ‘n lasbrief vir inhegtenisneming is uitgereik. ’n Multidissiplinêre span wat die Valke, provinsiale misdaadintelligensie, polisie se spesiale taakmag en bomverwydering-eenheid insluit, het ’n soektog in Mamre gedoen waar daar op verskeie items beslag gelê is.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklagte van oortreding van die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui