DE DEUR.- Vier verdagtes, wat tydens ‘n dwelmklopjag in De Deur gearresteer is, sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelmbesit, -handel en -vervaardiging.
Dít nadat die polisie Dinsdag ’n dwelmlaboratorium suksesvol afgebreek en vier verdagtes in ’n intelligensie-gedrewe operasie aangekeer het.
Die Sedibeng Flying Squad en K9-eenheid, wat opgetree het op inligting wat ontvang is oor ‘n verdagte eiendom in De Deur, het die inligting operasioneel voorberei en op die eiendom toegeslaan.
Met die deursoeking van die perseel is ‘n dwelmlaboratorium met toerusting en materiaal ter waarde van ongeveer R2,3 miljoen ontdek.
Die polisie het beslag gelê op al die dwelmvervaardigingstoerusting, mandrax-dwelms en vier verdagtes tussen 37 en 56 jaar oud, insluitend die eienaar van die eiendom, in hegtenis geneem.
