Breinvliesontsteking eis die lewe van ‘n jong seun

Die gedenkdiens vir ’n Bloemfonteinse seun wat aan breinvliesontsteking gesterf het, vind Donderdag (14/11) plaas.

Branden Taylor (13) het Donderdag (7/11) in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein beswyk. “Hy het Saterdag siek begin voel, en sy ouers het hom hospitaal toe geneem.

Daar is aan hulle gesê hy het brongitis en hy is huis toe gestuur,” sê Senda Edeling, sy tannie.

Die situasie het egter Sondagoggend ’n wending geneem toe Branden omstreeks 03:00 ’n epileptiese toeval gekry het. Volgens Edeling het sy neus begin bloei en sy koors het gevaarlik hoog gestyg.

“Branden is vinnig teruggeneem hospitaal toe, maar ondanks mediese pogings is hy ’n paar dae later oorlede.

“Sy dood is ’n groot skok vir ons almal. Ons het nooit verwag dat dit sou gebeur nie; ons was oortuig hy sou huis toe gekom het,” sê Edeling.

Die epileptiese toeval was “besonder onverwags”, aangesien Branden die afgelope sewe jaar nie ’n episode gehad het nie.

Branden word beskryf as ’n hulpvaardige seun. “Hy was altyd daar om te help, of dit nou in die tuin was of om die kar te was. Hy was werklik ’n engel.”

Die Lettie Fouché-skool, waar Branden ’n leerder was, het ook hul meegevoel met die familie betuig “gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd”. Die skool vra in ’n Facebook-inskrywing ook dat mense sy geliefdes vertroosting sal toebid.

Branden se gedenkdiens word Donderdag om 11:30 by die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein gehou.

Die simptome van die gevaarlike siekte

Die simptome van breinvliesontsteking stem dikwels ooreen met dié van kwaai verkoue of griep. Die gevaartekens vir dié siekte is hoë temperatuur, koors en ’n kind wat sleg voel en buitengewoon moeg is.

Ander simptome sluit in beenpyn, bewerasie, ’n stywe nek, vinnige asemhaling, ’n bleek vel met blou kolle, slaperigheid, deurmekaarheid, naarheid en aanhoudende braking.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui