Die Adjunk-Nasionale Polisiekommissaris, Lt.-Genl. Shadrack Sibiya, se tussentydse interdik wat voormalige hooggeplaaste polisielid Patricia Morgan-Mashale verbied het om lasterlike verklarings op sosiale media te publiseer waarin hy van korrupsie beskuldig word, is omvergewerp.
Sibiya het haar tot die Bloemfonteinse Hooggeregshof gewend vir ‘n finale interdik nadat hy die tussentydse interdik teen haar in November verlede jaar verkry het.
Morgan-Mashale het haar optrede verdedig deur te sê dat haar plasings rakende Sibiya die waarheid is, in die openbare belang, en dat wat sy oor hom gesê het, in elk geval reeds openbare kennis was.
Die hof het, met die tersydestelling van die tussentydse interdik teen haar, gesê dat Sibiya nie daarin geslaag het om hierdie verwere afdoende te weerlê nie. Die hof het gesê hy het ‘n alternatiewe verweer, aangesien hy ‘n dagvaarding teen haar vir skadevergoeding kan indien en dan laster kan bewys.
Morgan-Mashale, wat haarself as ‘n fluitjieblaser beskryf, het gesê sy bly tans in ‘n onbekende perseel. Sy was voorheen as ‘n administratiewe klerk in die SAPD werksaam, maar is ontslaan.
In ‘n tussentydse bevel wat in November uitgereik is, het die hof gelas dat die verklarings deur Morgan-Mashale op sosiale media onwettig en lasterlik verklaar word en dat dit Sibiya se reg op waardigheid skend. Sy is gelas om die verklarings van die sosiale mediaplatforms, Facebook en Twitter/X, onder haar gebruikersnaam terug te trek en/of te verwyder. Die tussentydse bevel is by verskeie geleenthede verleng.
Morgan-Mashale voer aan dat sy, as ‘n fluitjieblaser en menseregteverdediger, geregtig is om sake rakende korrupsie aan te meld. Volgens haar was die inligting wat geplaas is reeds in die publieke domein. Sy het daarop aangedring dat die inligting die waarheid en in die openbare belang was; ook dat sy geen voorneme gehad het om Sibiya te belaster nie.
Morgan-Mashale se plasings op sosiale media het bewerings ingesluit dat Sibiya met die misdaadtoneel gepeuter het waar die oorlede sokkerster Senzo Meyiwa vermoor is. Sy het ook bewerings geplaas dat Sibiya omkoopgeld van die diamanthandelaar Louis Liebenberg ontvang het. Sy het ongeveer 101 000 volgelinge op Facebook en 68 200 op Twitter/X.
Regter Johannes Daffue het opgemerk dat dit gemeensaak is dat Sibiya die Meyiwa-misdaadtoneel bygewoon het. Volgens sy eie weergawe, soos blyk uit die uittreksels van ‘n Netflix-dokumentêr, het hy en sy span “na die toneel gejaag” en die toneel skoongemaak, het die regter gesê.
Sibiya het op sy beurt gesê dat geeneen van die Netflix-episodes waarop sy staatgemaak het, toon dat hy met die misdaadtoneel gepeuter het of dat hy iemand anders opdrag gegee het om daarmee te peuter nie. Hy het hierdie stellings as lasterlik beskou.
Wat die omkopery-aantygings deur Liebenberg betref, het Sibiya verduidelik dat hy in Oktober verlede jaar met Liebenberg gepraat het, wat hom meegedeel het dat sy vrou dagboekinskrywings op sy instruksies gemaak het, wat die naam van mnr. Sibiya van die SAPD weerspieël het. Volgens Sibiya het Liebenberg egter nie na hom verwys nie, maar na ‘n ander mnr. Sibiya. Gevolglik het hy gesê dat daar geen getuienis was dat hy enige geld van Liebenberg ontvang het nie.
In hierdie verband het Regter Daffue gesê: “Ek vind dit uiters ontstellend dat die applikant (Sibiya) versuim het om beëdigde verklarings van die Liebenbergs te bekom om hom vry te spreek. As dit bloot toevallig is dat geld aan ‘n ander Sibiya van die SAPD betaal is, sou ek verwag het dat die applikant, ondersteun deur die Liebenbergs onder eed, hierdie Sibiya sou identifiseer wat ook ‘n lid van die SAPD is.”
Die regter het bygevoeg dat “sekerlik geen geld betaal sou word om ‘n persoon om te koop wat nie van enige hulp vir die Liebenbergs kon wees nie”.
Hy het Sibiya se weergawe hieroor verwerp as “onhoudbaar en vergesog, indien nie vals nie”.
Regter Daffue het aanvaar dat die plasings op sosiale media Sibiya uitbeeld as ‘n korrupte polisiebeampte wat betrokke is by omkopery en korrupsie.
Maar hy het tot die gevolgtrekking gekom dat hoewel hy die reg het om sy waardigheid en reputasie te beskerm, die hof nie tevrede is dat Sibiya voortdurende reputasieskade gely het en sal voortgaan om te ly as die interdik geweier word nie, aangesien hy alternatiewe voorkomingsmaatreëls tot sy beskikking gehad het.
