Hofsaal-chaos: Louis Liebenberg se borgtogaansoek

In plaas daarvan om sy borgtogaansoek voort te lê, het Liebenberg in ‘n tirade die landdros, die aanklaer en Korrektiewe Dienste daarvan beskuldig dat hulle “boelies” is.

Wat veronderstel was om ‘n drie dae lange borgtog-aansoek deur die diamanthandelaar Louis Liebenberg te wees, het tot ‘n uitbarsting gelei waar hy sy frustrasie oor die manier waarop hy behandel word, beskryf het.

Dit het daartoe gelei dat die landdros hom na ‘n dokter verwys het om vas te stel of hy die hofverrigtinge verstaan.

Die oggend in die Bronkhorstspruit-landdroshof het begin met Liebenberg wat vir die landdros, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, gesê het dat hy sy eie borgtogverhoor sou hou.

Maar in plaas daarvan om met sy borgtog-aansoek voort te gaan, het Liebenberg in ‘n tirade die landdros, die aanklaer en Korrektiewe Dienste daarvan beskuldig dat hulle “boelies” is.

Hy het selfs op ‘n stadium vir die landdros gesê om stil te bly.

“Jy klink soos my ma. Los my uit sodat ek kan praat… Ek verdien die vryheid om te praat, net soos enige ander persoon… Moenie my onderbreek nie,” het Liebenberg vir die landdros gesê toe laasgenoemde probeer ingryp het om hom te vra om met sy borgtog-aansoek voort te gaan.

‘n Duidelik geïrriteerde Liebenberg het op ‘n stadium sy rug op die landdros gedraai en gaan sit terwyl hy nog aangespreek is.

Volgens hom het die Staat teen hom saamgesweer sodat daar nie meer geld beskikbaar is vir sy regsverteenwoordiging nie.

Hy het ook ‘n draaipunt gemaak oor die toestande in die tronk en gesê sy gewig het van 130 kg tot 88 kg gedaal. Liebenberg het verder gesê in sekere areas in die tronk is daar “rotte so groot soos katte”.

Volgens hom is daar niks soos grondwetlike regte in die tronk nie, en hy het bygevoeg dat Minister Pieter Groenewald nie weet waarvan hy praat as hy beweer dat daar wel is nie.

Liebenberg het gesê dit is onmoontlik om sy saak voor die hof te stel, want elke keer as hy in die hof is, eindig dinge in ‘n argument en ‘n “p… stryd”.

Sy saak staan intussen oor tot Donderdag wanneer hy deur ‘n dokter ondersoek moet word, na aanleiding van die hof se uitspraak.

Nadat die hof verdaag het, het Liebenberg aan die media gesê dat hy “tussen die lyne lees” dat sy verwysing na ‘n dokter ‘n “geestelike evaluering” behels.

Liebenberg het tydens sy vorige borgtogaansoek, wat laat vaar is, aan die hof aangedui dat hy sy bes doen om in die tronk voor te berei vir sy borgtogaansoek. Dit is nadat sy prokureur hom vir eers onttrek het weens ‘n gebrek aan fondse.

Hy het ook aangedui dat hy beplan om sowat 55 getuies te roep in ‘n poging om te bewys dat die Staat ‘n swak saak teen hom het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui