Voormalige kleuterskoolonderwyseres erken uiteindelik sy het kleuter verdrink

Nadat Nada-Jane Therése Challita (4) op 23 Januarie 2023 drywend in ‘n bad water aangetref is, het Amber Lee Hughes (25), haar kleuterskoolonderwyseres en die destydse meisie van die oorlede kind se pa, op 15 April 2025 twee aanklagte van verkragting en moord onskuldig gepleit.

Amber Lee Hughes (25), ‘n voormalige kleuterskoolonderwyseres, het skuld vir die moord op Nada-Jane Challita, die vierjarige dogter van haar kêrel, in die Johannesburg hooggeregshof beken. Hughes het erken sy het die kleuter ná ‘n rusie met die dogtertjie se pa verdrink.

Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Hughes is vir twee verkragtings en moord aangekla.

Hughes het aanvullende bekentenisse ingedien nadat die meriete van die saak reeds volledig deur die staat en verdediging betoog is. Die bekentenisse volg nadat sy van regsverteenwoordiger verander het. In haar verklaring erken Hughes dat sy die kind verdrink het ná ’n emosioneel belaaide rusie met die kind se pa oor sy beweerde ontrouheid.

Sy het verder aangevoer dat sy destyds aan ‘n grenslyn-persoonlikheidsversteuring gely het, maar het volgehou dat sy ten volle bewus was van haar optrede. Sy het ook verwys na verskeie onsuksesvolle selfmoordpogings ná die voorval.

Hughes, wat ook op aanklagte van verkragting teregstaan, het die bewerings ontken en gesê sy dra geen kennis daarvan nie.

Die saak is vir slotbetoë oor die erkennings tot 7 Augustus uitgestel. Hughes bly in aanhouding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui