Met dank aan Pixie Pink – Victim’s Advocate
MEDIAVERKLARING:
Minister van Polisie, Senzo Mchunu, skuld Bergview College-hoof en die publiek ’n verskoning – Minister sal strafregtelike gevolge in die gesig staar.
Minister van Polisie, Senzo Mchunu, het vir ’n week lank niks gedoen terwyl valse en lasterlike verklarings, vererger deur sy eie onwaar stellings in ’n persverklaring, oor sosiale media en nuusorganisasies versprei is nie.
AfriForum se Privaat Vervolgingseenheid, wat die Bergview College se skoolhoof, Jaco Pieterse, verteenwoordig, sal hom nou adviseer en bystaan om te verseker dat diegene wat hierdie bewerings herhaal het, strafregtelik aanspreeklik gehou word.
Die skoolhoof is in die openbaar gekritiseer op grond van ’n fiktiewe bewering dat hy ’n polisie-ondersoek na die verkragting van ’n leerder by die skool belemmer het.
Mchunu het oor die kennis en gesag beskik om die rekord reg te stel, maar het gekies om eerder stil te bly.
Hy skuld Pieterse en die publiek ’n verskoning. “Die skuldigbevinding van ’n onskuldige persoon deur sosiale media-speurders en prominente individue wat politieke gewin nastreef, mag nooit toegelaat word om dié wat gemagtig is om die reg toe te pas, te oorskadu nie. Dit is onmoontlik om jouself te verdedig teen ’n waansinnige storm van ongegronde, oningeligte bewerings wanneer die sleutel om die rekord reg te stel, stilbly,” sê advokaat Gerrie Nel, hoof van die eenheid, in ’n brief aan die polisie-ministerie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Onder diegene wat vir vervolging geïdentifiseer is, tel Mchunu, ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula, Oos-Kaapse onderwys-LUK Fundile Gade, en EFF-leier Julius Malema.
Indien die Nasionale Vervolgingsgesag weier om hierdie sake te vervolg, sal die eenheid met privaat vervolgings voortgaan.
Op Saterdag, 29 Maart, het die eenheid ’n mediaverklaring uitgereik wat dit duidelik maak dat “Pieterse nie ’n verdagte in die verkragtingsaak is nie en dat die polisie hom nooit as ’n verdagte beskou het nie.”
Ure later het Mchunu ’n verklaring uitgereik waarin hy gesê het “drie individue, insluitend die skoolhoof, is as verdagtes geïdentifiseer.
Alle uitstaande verklarings is intussen deur die ondersoekbeampte bekom. DNS-toetse is ook gedoen.”
Dit is nou publiek bekend dat Mchunu verkeerd was en dat AfriForum reg was, maar dit was blykbaar polities te onaanvaarbaar vir die Minister om dit te erken.
Dit het Mchunu ses dae geneem om ’n swak poging aan te wend om toe te gee dat hy valslik beweer het dat Pieterse ’n verdagte was. Selfs toe het hy nie reguit gesê dat hy die publiek mislei het nie, wat gelei het tot nog ’n persverklaring in reaksie op openbare bewerings dat hy gelieg het oor die afname van ’n DNS-monster van Pieterse.
Eers op Maandag, 7 April, het SAPD-woordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, op Radio 702 onomwonde gesê dat die “skoolhoof nooit as ’n persoon van belang in hierdie spesifieke saak geïdentifiseer is nie.
Volgens die verklarings wat afgeneem is, was die skoolhoof nêrens naby daardie skool gedurende die drie tot vier dae waarop gefokus is nie.” Sy het verder gesê dat daar geen grond was om ’n mondmonster (buccal sample) van Pieterse te versoek nie.
Nel het gesê die polisie se versuim om die rekord reg te stel het onnoemlike skade aan die skoolhoof en die skoolgemeenskap berokken. “Die polisie het ’n grondwetlike plig om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek. Hulle moet ook openbare orde handhaaf en die publiek beskerm. Die SAPD en die Ministerie van Polisie het op albei hierdie pligte gefaal.
Hierdie mislukking en die bydraende disinformasieveldtog deur ten minste die Minister van Polisie het ’n onskuldige man se lewe omver gegooi en hom blootgestel aan ’n ervaring van onregverdige, lewensgevaarlike publisiteit.
Bergview College, sy personeel, die leerders en hul ouers het as kollaterale skade gedien in ’n heeltemal vermybare smeerveldtog.”
“Ons pogings om te verseker dat daar gevolge is vir dié wat, vir politieke gewin, lasterlike opmerkings maak met die doel om ’n onskuldige persoon te benadeel, sal nie verslap nie,” het Nel afgesluit.
Brig Fanie Bouwer
