Lourentia Lombaard het in die Wes-Kaapse hooggeregshof die kil feite van die verkoop van die vermiste Joshlin Smith gedeel.
Die voormalige beskuldigde het gesê dat Racquel ‘Kelly’ Smith aan haar gesê het dat die transaksie om die sesjarige te verkoop op 18 Februarie 2024, die dag voordat Joshlin as vermis aangemeld is, gefinaliseer is.
Lombaard het aan die hof, wat in die White City Multipurpose Centre in Diazville, Saldanhabaai sit, gesê Kelly het haar geld aangebied.
Die ma staan saam met haar kêrel, Jacquen ‘Boeta’ Appollis en Steveno ‘Steffie’ van Rhyn tereg vir ontvoering en mensehandel.
“Ek het gesien hoe Kelly na ‘n wit VW Polo stap. Die vensters was nie te donker nie. ’n Swart vrou het uit die kar gekom en met Kelly gepraat en toe vir haar iets gegee en Kelly het dit in haar broek, aan die voorkant, gesit.
“Hulle het aanhou praat en die vrou het hulle gelos. Kelly en Joshlin het van die motor af weggestap en toe is hulle terug na Kelly se huis. Ek het na my huis gegaan. Ek het nie lank by my huis gebly nie.
“Ek het teruggegaan na Kelly se huis en buite die hek gaan staan. Kelly en Boeta het nie geweet ek staan daar nie. Ek was nuuskierig oor wat sy vir Boeta gaan sê.
“Sy het vir Boeta geld gewys, sy het vir hom gesê dit is R20 000 en Boeta het gevra wat sy daarmee gaan doen. Ek het na die shack gegaan en vir Kelly gevra wat aangaan.
“Sy het gesê sy het iets k$$ gedoen,” en ek het gevra wat sy bedoel. “… en ek het my kind aan ’n sangoma verkoop.
“Ek het haar gevra hoekom, sy het gesê sy het die geld nodig en gaan deur swaarkry.”
“Sy het gesê sy sal vir my geld gee om stil te bly, want ons het geweet van die plan.”
“Sy het gesê sy gaan my R1 000 gee, Steveno R1 200 en die ander geld sal onder haar en Boeta gedeel word.
“Ek het nooit enige geld van Kelly ontvang nie.
“Ek het haar gevra hoe sy Joshlin gaan wegneem en ay’t gesê sy sal ’n plan maak.”
