“Human Trafficking” is nie beperk tot ras nie. Daar is ondersoeke wat dui op wit kinders wat uit pleegsorg verwyder word en dan verdwyn hulle net. Die beskuldigde in hiérdie berig moet nou verantwoordelikheid dra vir die dade waarvan sy aangekla word.
Keneilwe Shalaba, die 32-jarige vrou wat daarvan aangekla word dat sy haar 2-jarige seuntjie vir R75 000 verkoop het, is Vrydag borgtog deur die Vanderbijlpark-landdroshof geweier.
Shalaba, wat Woensdag in die gevangenis geboorte geskenk het, word daarvan beskuldig dat sy na bewering die tweejarige Kutloana Shalaba op 10 November 2024 aan ongeïdentifiseerde individue verkoop het.
“Op 13 November 2024 het sy na bewering ‘n vals saak by die polisie aangemeld en beweer dat haar seun deur onbekende mans in ‘n voertuig ontvoer is. Die polisie-ondersoek het egter vasgestel dat die bewering van die ontvoerings vals was.
Die vrou het later erken dat sy die storie gefabriseer het. Sy is op 19 November in hegtenis geneem, het die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana bevestig.
Mahanjana het gesê dat die kind steeds nie opgespoor kan word nie en die polisie se pogings om hom t vind duur voort.
Tydens die borgtogaansoek is gesê Shalaba het getuig dat sy ‘n eerste oortreder is, en dat sy, terwyl sy in aanhouding was, nie goeie mediese behandeling ontvang het nie aangesien sy nege maande swanger was.
Sy het bygevoeg dat sy met die polisie saamgewerk het en terwyl sy in aanhouding was, kon sy nie haar ander kinders versorg nie. Verder het sy gesê sy sal nie die verhoor ontduik nie aangesien sy haar vermiste kind wou opspoor.
Cornelle Grobler, staatsaanklaer, het egter die borgtogaansoek teëgestaan en gesê Shalaba kan dalk met ondersoeke inmeng, aangesien sy reeds een van die staatsgetuies gekontak het.
Verder het sy gesê Shalaba is ‘n gevaar vir haar kinders aangesien hulle dalk dieselfde lot as die vermiste kind mag ly. Sy het gesê Shalaba was in ‘n kraamsaal waar sy die nodige mediese aandag ontvang het en sal nie die eerste vrou wees wat in die tronk kraam nie.
Landdros Micheal Tlale het met die uitspraak gesê Shalaba het nie ‘n geloofwaardige rede verskaf waarom sy op borgtog vrygelaat moet word nie.
“Die swangerskap en gedeeltelike medies versorging is nie genoeg om haar vrylating op borgtog te verseker nie. Verder het hy gesê die persoonlike omstandighede wat die beskuldigde voorgehou het is nie uitsonderlik nie; daarom vind hy dat dit nie in die belang van geregtigheid is om die beskuldigde borgtog toe te staan nie,” het Mahanjana gesê.
Die saak is tot 7 April 2025 uitgestel vir verdere ondersoeke.
