“Ons dink Khoisan-mense het lankal stilgebly. Ons weet dat die Khoisan-mense die eerste mense van die land is. So, dit beteken ons is met reg die eienaars van die grond.”
Ná byna sewe jaar van Khoisan-protes het die departement van openbare werke (DPW) hul kamp by die Uniegebou op 10 Februarie afgebreek en verwyder.
Die departement van openbare werke en infrastruktuur het bevestig dat die uitsettingsbevel wat op 11 Desember deur die Gautengse hooggeregshof, Pretoria toegestaan is, Maandagoggend deur wetstoepassers afgedwing is.
Woordvoerder van die departement, Lennox Mabaso, het gesê daar moet kennis geneem word dat geen appèl of opposisie deur enige belanghebbende partye teen hierdie hofbevel ontvang is nie.
“Terwyl die departement sy simpatie met die ernstige griewe van die Khoi-San-gemeenskap uitspreek, het geen enkele persoon die reg om openbare ruimte te eis of te okkupeer wat bedoel is om deur alle Suid-Afrikaners gebruik en geniet te word nie.”
Mabaso het gesê die departement het met alle belanghebbendes, insluitend ander staatsdepartemente en die Stad Tshwane, saamgewerk en geraadpleeg voordat die bevel afgedwing is om alle individue te help wat bereid was om terug te keer huis toe.
Sigbaar ontsteld oor die groep polisiebeamptes wat ‘n wakende oog gehou het terwyl hul besittings agterop ‘n wagtende voertuig gepak word, het twee persone, Ruben Rustoff en ‘n persoon wat homself Vhillem noem, gesê hulle het geen idee dat hulle vandag (Maandag) uitgesit word nie.
Rustoff het verduidelik dat die eerste polisiebeamptes omstreeks 05:00 by die Uniegebou opgedaag en hulle verras het. “Hulle het nooit vir ons gesê vandag is die dag dat ons uitgesit gaan word nie. Hulle het net ingekom en ons strukture begin afbreek.”
Op die vraag waarheen hulle nou gaan, het die paartjie gesê hulle het geen idee nie, “maar een ding is seker, hulle sal binnekort terug wees”.
Terwyl hulle president Cyril Ramaphosa ‘n lafaard genoem het omdat hy toegelaat het dat dit met hulle gebeur, het hulle belowe om die Amerikaanse president Donald Trump te vertel van die behandeling wat hulle van die regering ontvang.
Hulle het gesê hul leier King Khoisan, wat uit die hospitaal ontslaan is nadat hy verlede maand in ‘n motorongeluk was waarin sy vrou gesterf het, was nie Maandag daar toe die uitsetting plaasgevind het nie. “Hulle het geweet hy is nie hier nie en dit is hoekom hulle dit vandag gedoen het,” het Rustoff gesê.
Maar die gemeenskap sou reeds op 11 Januarie ingevolge die uitsettingsbevel uitgesit word. Hulle het tot dusver ‘n reddingsboei gekry weens die koning se ongeluk waarin sy vrou – koningin Khoisan SA – gesterf het. Die departement het gesê hulle het ook gewag om die oorspronklike hofbevel te bekom.
King Khoisan SA het verlede maand in reaksie op die uitsettingsbevel gesê hulle weet nie wat ná hul uitsetting sal gebeur nie.
“Maar ons sê ons sal steeds hier wees totdat die regering met ons begin praat oor die kwessies waarom ons in die eerste plek hier is. Ons is hier sedert 30 November 2018.”
Hy het gesê die groep se enigste verbintenis was met die ontslape minister in die presidensie Jackson Mthembu in 2019.
“Ons dink Khoisan-mense het lankal stilgebly. Ons weet dat die Khoisan-mense die eerste mense van die land is. So, dit beteken ons is met reg die eienaars van die grond,” het hy gesê.

