Die polisie in Limpopo het beslag gelê op R5 miljoen se vervalste goedere tydens ‘n operasie in Musina.
Verskeie wetstoepassingsagentskappe het Sondag ‘n deursoeking en beslaglegging by ‘n winkelsentrum in die Musina CBD uitgevoer. Dit is gelei deur die Nasionale Eenheid vir Vervalste Goedere, met ondersteuning van die Sapd Gauteng Hommeltuig-span, die Bloemfontein K9-eenheid, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Doeane en handelsmerkbeskermers.
“Tydens die operasie is beslag gelê op meer as 2 000 vervalste en onwettige items, insluitend tekkies, klere, selfoonbykomstighede, parfuum en verbruiksgoedere.
“Twee Eritrese burgers en een Bangladesj-burger, almal asielsoekers, is gearresteer vir die handel in vervalste goedere. Die Bangladesj-burger staar ‘n bykomende klag vir omkopery in die gesig, nadat hy beamptes op die toneel probeer omkoop het om sy arrestasie te ontduik,” het Lt Kol Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder gesê.
“Die SAPD, saam met sy vennote, bly standvastig in sy pogings om die onwettige handel in vervalste en onwettige goedere uit te skakel, wat risiko’s vir verbruikers inhou, wettige besighede benadeel en die ekonomie van hierdie land ondermyn,” sê Lt Kol Amanda van Wyk.
https://twitter.com/AmandavanWyk10/status/1878797165767836062
