Mosambiek se vernaamste opposisieleier, Venâncio Mondlane, het ‘n beroep gedoen op eenheid voor ‘n nuwe ronde betogings teen die uitslag van presidensiële verkiesings.
Mondlane – wat in selfopgelegde ballingskap is – het in ’n regstreekse uitsending op sy Facebook-blad burgers aangemoedig om om 23:45 hande in hul woonbuurte te vat en die volkslied te sing totdat 2025 inskop.
“Ons moet onsself weer as Mosambiekers vind,” het hy gesê.
Mosambiek het een van die bloedigste weke sedert Oktober in die gesig gestaar, toe Mondlane die eerste keer vir betogings gevra het nadat hy sy nederlaag in die verkiesing verwerp het.
’n Plaaslike moniteringsgroep, Plataforma Decide, het gesê dat 179 mense verlede week in onluste gesterf het, nadat die land se hoogste hof bevestig het dat die regerende partykandidaat, Daniel Chapo, die verkiesing gewen het.
Dit het die dodetal op 278 mense te staan gebring sedert betogings begin het nadat die verkiesingskommissie Chapo in Oktober tot die wenner van verkiesings verklaar het, wat Frelimo se 49-jarige bewind verleng het.
Die sterftes sluit betogers, kinders en lede van die veiligheidsmagte in.
Mondlane het uit Mosambiek gevlug en gesê sy lewe is in gevaar nadat twee van sy assistente in Oktober doodgeskiet is.
In sy jongste toespraak het hy mense aangemoedig om in hul woonbuurte te “kook en kuier” voordat ’n nuwe vlaag betogings op 2 Januarie begin.
“Ek is gereed om my lewe vir hierdie stryd te verloor,” het hy bygevoeg.
Hy het voorheen gesê hy sal homself op 15 Januarie as president aanstel – die dag waarop Chapo ingesweer moet word – ondanks die konstitusionele hof wat sy mededinger se oorwinning bekragtig het.
Dit is onduidelik hoe Mondlane van plan is om sy amp te aanvaar, aangesien hy in selfopgelegde ballingskap is.
Chapo het in ’n verklaring gesê hy sal ná sy inhuldiging as “die president vir almal” dien.
“Ons sal binnekort saamwerk aan oplossings vir die probleme wat deur hierdie ongelukkige situasie veroorsaak word,” het hy bygevoeg.
Die verkiesingskommissie het Chapo met 71% van die stemme tot die wenner van die verkiesing verklaar, vergeleke met Mondlane se 20%.
Die konstitusionele hof het die uitslag verlede week hersien en Chapo 65% en Mondlane 24% gegee.
Internasionale verkiesingswaarnemers het vroeër gesê die stem was gebrekkig, wat gewys het op gedokterde getalle en ander onreëlmatighede tydens die telproses.
Die daaropvolgende betogings het Mosambiek se ekonomie ‘n ernstige knou toegedien.
Meer as 12 000 mense het hul werk verloor en meer as 500 maatskappye is gevandaliseer, het Onorio Manuel, visepresident van die land se Konfederasie van Ekonomiese Verenigings, aan die plaaslike nuuswebwerf O Pais gesê.
Saam met besighede is Frelimo-kantore, howe, polisiestasies en padtolhokkies afgebrand.
Verlede week het die polisie berig dat meer as 1 500 gevangenes uit ‘n maksimum sekuriteitsgevangenis ontsnap het en die politieke onrus benut het.
Buurlande het ook die impak van Mosambiek se onrus gevoel. Etlike duisende Mosambiekers het oor die grens na Malawi gevlug as gevolg van die geweld.
En ‘n besorgde Suid-Afrika het ‘n spesiale gesant, Sydney Mufamadi, na Mosambiek se hoofstad, Maputo, gestuur om die krisis met president Filipe Nyusi te bespreek, wat aan die einde van sy twee termyne moet bedank.
Mufamadi het gesê die bespreking het daarop gefokus om die aard van die krisis te verstaan en te ondersoek hoe Suid-Afrika kan help om dit op te los.
Suid-Afrikaanse amptenare sê hulle het intelligensie- en veiligheidsoperasies langs die grens verskerp om te verhoed dat kriminele elemente oorsteek.
