Polisielede verbonde aan die Anti-Ekonomiese Misdaad-taakspan het op Dinsdag 24 Desember 2024 ‘n geïntegreerde operasie gelei met die fokus op die deursoeking van die persele van bekende dwelmhandelaars.
Die lede het op ‘n adres in Essex Court in Maitland afgestorm waar hulle die perseel en al die insittendes wat teenwoordig was deursoek het. Hul optrede het gelei tot die terugwinning van 31 sakkies dagga asook ‘n sak met los dagga wat gelei het tot die aanhouding van ‘n buitelander. Die 33-jarige vrou is aangehou vir die besit en handel in dagga asook die oortreding van die Immigrasiewet.
Met hul fokus verskuif na Manenberg, het die lede voortgegaan na ‘n adres in Susan Court in Heideveld. Hulle het tot die verbasing van almal wat teenwoordig was die huis binnegegaan, hulle deursoek en dwelms gekonfiskeer wat gelei het tot die arrestasie van ‘n 37-jarige man vir handel in dwelms.
Die verdagtes sal na verwagting vandag, 27 Desember 2024 hul onderskeie hofverskynings in die Goodwood- en Athlone-landdroshowe maak op die genoemde aanklagte.
