Riaan Theunissen (36), ’n werknemer by Just Properties Table View, het Donderdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn op meer as 400 aanklagte van bedrog.
Die Wes-Kaapse woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi het gesê Theunissen se verskyning kom nadat ‘n lasbrief vir arrestasie teen hom uitgevoer is.
Theunissen word daarvan aangekla dat hy fondse van sy werkgewer Just Properties, gebaseer in Table View, ten bedrae van R5,5 miljoen wanbestee het.
“Theunissen het na bewering fondse van sy werkgewer wanbestee, naamlik Just Properties gebaseer in Table View vanaf Junie 2016 tot Augustus 2023. Hy het onreëlmatige betalings in die PayProp-stelsel se betalingsmodule verdoesel en gefasiliteer deur sekere transaksies te argiveer en nie die maatskappy se goedkeuring, betalingsbeleide en prosedures te volg nie. Na ondersoek deur Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoek, is Theunissen gevolglik op 461 aanklagte van bedrog ten bedrae van R5 502 000 aangekla,” het Vukubi gesê.
Theunissen het ‘n kort hofverskyning gemaak. Borgtog van R30 000 is aan hom toegestaan met sekere voorwaardes daaraan verbonde.
Die saak is tot 27 Februarie 2025 vir ‘n streekhofdatum uitgestel.
