Voete word gesleep in minderjarige kind se verkragtingsaak

Die Polisie se patetiese verskoning – “‘n tekort aan mannekrag”

’n Oos-Kaapse ma sê die polisie in Matatiele sleep voete om haar sewejarige dogter se verkragting te ondersoek.

Sy sê ook Bergview College, die private skool waar sy sê die verkragting plaasgevind het, het versuim om die voorval dadelik by die onderwysdepartement aan te meld.

Die meisie is glo ná skool verkrag terwyl sy op 14 Oktober vir haar vervoer gewag het, hoewel haar ouers eers die volgende dag van die voorval bewus geword het.

Toe die kind op 15 Oktober van die skool af by die huis kom, het sy gereeld toilet toe gegaan en oor erge maagpyn gekla.

Die volgende oggend, sê die ma, het haar dogter vir haar gesê dat sy nie kan loop nie en pyn het.

“Nie een van ons het aan verkragting gedink nie. Maar ek het haar dokter toe geneem, wat vir my gesê het dat my dogter seksueel aangerand is.”

Die kind is vir twee weke in Port Shepstone gehospitaliseer en vir ‘n infeksie behandel. Toe sy by die huis kom, sê haar ma, wou die dogtertjie nie skool toe gaan nie en het daarop aangedring dat haar ouers haar “bewaak” op die twee dae wat sy wel teruggegaan het.

Die ouers het die saak onmiddellik by die polisie aangemeld toe die dokter bevestig het die kind is seksueel aangerand.

Die polisie het die kind na die naaste Thuthuzela-sentrum geneem vir ’n assessering. Maar, sê die ma, sedertdien is min deur die polisie gedoen. Sy sê die polisie het versuim om aan haar terug te rapporteer;

Geen DNS-monsters is van die mans na aan die kind geneem nie en ’n verklaring is eers verlede week, drie weke ná die verkragting, by die kind afgeneem.

“Ek het haar gevra watter DNS-monsters van my dogter geneem is? En hoekom is nie een van die mans wat daardie dag naby my dogter was nie getoets nie? Die beampte het vir my gesê sy kan dit nie doen nie, want daardie mense het regte,” het die ma gesê.

Majola Nkohli, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van verkragting.

Op ‘n vraag oor die ma se bewerings, het Nkohli gesê die saak is “baie sensitief” en sal “die betrokkenheid van verskeie spesialiste soos forensiese maatskaplike werkers vereis aangesien die slagoffer baie jonk is.”

Malibongwe Mtima, Oos-Kaapse onderwyswoordvoerder, het gesê die departement ondersoek “om die bewerings te toets”.

“Die kind is intussen besoek en ontvang psigososiale ondersteuning van die distrik en ander departemente.”

“My kind verdien geregtigheid,” het sy gesê.

Die skrywer kon nêrens lees dat die regte van hierdie onskuldige kind enigsins in ag geneem is nie. Moet misdadigers nou vry rondloop omdat die kind te jonk is?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui