Motoriste word versoek om omsigtigheid aan die dag te lê wanneer hulle die grens na Mosambiek oorsteek nadat die Lebombo grenspos heropen is.
Die Lebombo-grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika is heropen nadat betogings in Mosambiek weer opgevlam het, wat gelei het tot die sluiting van die hawe van toegang.
TRAC N4 het bevestig dat die grens omstreeks 16:00 gister weer oopgemaak het nadat dit vir die grootste deel van die dag gesluit was.
Die betogings is steeds die gevolg van Mosambiek se nasionale verkiesing op 9 Oktober waarin die Frelimo Party die voortou geneem het, wat gelei het tot bewerings dat die uitslae bedrog is.
Padgebruikers is aangeraai om versgting te wees wanneer hulle die grenspos oorsteek. Motoriste moet met hul versekeringsmaatskappye bevestig wat die dekking is wat hulle sal geniet sou hulle Mosambiek besoek.
Daar was pamfeltte versprei op sosiale media wat die planne vir die protes wat moontlik tot Vrydag sal duur, uiteensit. Motoriste moes volgens die pamflette gister van 08:00 af met hul voertuie die paaie versper en werk toe stap. DIe volkslied moes vir 15 minute gesing word vanaf 15:30. Die Afrika-lied moes vir 15 minute vanaf 15:45 gesing word. Voertuie kon weer om 16:00 afgehaal word en hulle moet hul toeters blaas terwyl hulle na hul huise terugkeer. Dit sal afgesluit word om 21:00 met ‘n “souspan protes” – wanneer potte en panne op ‘n ritme geslaan word by elkeen se tuiste.

Die Grensbestuursowerheid (BMA) se kommissaris, dr Michael Masiapato, het vroeër gister gesê die ontwrigting by die grens het beteken dat amptenare net voetgangers en ligte motorvoertuie kan verwerk.
“Die ontwrigtings aan die Mosambiekse kant het bedrywighede by die Lebombo-toegangshawe beïnvloed, wat veral die beweging van vragmotors beïnvloed.
“Ons doen ‘n beroep op vragmotors wat vandag [27 November] beplan om hierdie roete te gebruik om alternatiewe reëlings te tref en geduld aan die dag te lê terwyl pogings om die situasie op te los voortduur,” het Masiapato in ‘n gesamentlike verklaring deur die BMA en SAID gesê.
“Die voortdurende betogings het gelei tot die gedeeltelike sluiting van die pad, wat die beweging van vragmotors beïnvloed. Ten spyte van die ontplooiing van die Mosambiekse Weermag en polisie na die gebied, bly die pad ontoeganklik. Die situasie sal na verwagting tot vandag omstreeks 16:00 voortduur, hangende verdere verwikkelinge,” is gesê.
Die BMA en SAID het die situasie fyn dopgehou en sal met die Mosambiekse owerhede kommunikeer om op hulle op hoogte te hou. Hierdie organisasies sal meer inligting deel soos dit beskikbaar word.
“Die meeste voertuie het langs die snelweg naby die Maputo-hawe gestaan en daar geparkeer as ‘n vorm van protes. Ons eis die regering om met die waarheid vorendag te kom rakende die uitslag van die nasionale verkiesing,” het ‘n inwoner naby Maputo gesê.
Hy het ook gesê baie mense het nie werk toe gegaan nie, terwyl van diegene wat hul voertuie in die middel van die pad geparkeer het, daarheen gestap het.
