WES-KAAP – Die stryd om die Provinsie van vuurwapens ontslae te raak in die hande van misdadigers wat dit gebruik om ernstige en gewelddadige misdaad te pleeg, het sukses opgelewer toe polisielede verdagtes vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie gearresteer het.
Op Donderdag 14 November 2024 was lede van die Nyanga-polisie besig om inligting oor ‘n gekaapte voertuig op te volg toe hulle ‘n man in Sheffieldweg, Brown’s Farm, opgemerk het wat verdag opgetree het toe hy die polisie sien.
Die lede het hom gestop en deursoek en twee vuurwapens met 17 rondtes ammunisie in sy besit gevind. Hy het versuim om ‘n lisensie of permit vir die vuurwapens voor te lê. Hy is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
In ‘n onverwante ingryping het lede van die Paarl Openbare Orde Polisie ‘n 30-jarige man in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die lede was Donderdagaand besig met stop-en-deursoek-operasies in Buitekantstraat, Riverview, Worcester toe hulle die man deursoek en twee vuurwapens met ammunisie in sy besit gevind het.
Die verdagtes sal Maandag, 18 November 2024 in die Worcester- en Athlone-landdroshowe verskyn op die genoemde aanklagte.
