Daar was geen beserings ná ‘n brandvoorval by Sandton City, noord van Johannesburg nie.
Xolile Khumalo, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste (EMS), het gesê brandbestryders het Donderdag net voor 12:00 dadelik gereageer op ‘n brandvoorvaloproep in Sandton City.
“Die gelei/verligte advertensiebord ‘Sandton City’ was aan die brand. Geen beserings is tydens hierdie voorval aangemeld nie en die brand is heeltemal geblus.”
Donderdagmiddag het Khumalo gesê die oorsaak van die brand bly onbekend.
“Alle brandvoorvalle is gevaarlik, hetsy struktureel of nie-struktureel. Inwoners van Johannesburg word versoek om weg te bly van brandvoorvaltonele.”
Sandton City het bevestig dat die brand op die eksterne fasade-borde van die parkeerarea op vlak agt ontstaan het.
“Sandton City stel die veiligheid en sekuriteit van alle kopers, personeel en huurders voorop, en die bestuur werk nou saam met die betrokke spanne om die oorsaak van die brand vas te stel.
“Die geaffekteerde parkeerarea is afgesper, en die geringe skade word tans bepaal. Sandton City verhandel soos normaal,” het Sandton City gesê.
