N-e-FG het na bewering R470 miljoen se pensioenfondslede se fondse verloor nadat hulle nie die geld volgens kliënte se mandate belê het nie, sê die FSCA.
Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het twee bestuurders van ‘n Vanderbijlpark pensioenfondsadministrateur, N-e-FG, elk met R30 miljoen beboet en hulle vir 30 jaar geskors.
Nog ‘n uitvoerende beampte is met R8 miljoen beboet en is vir 20 jaar geskors en nog een is vir 10 jaar geskors.
Die FSCA, sê na ‘n uitgebreide ondersoek en sanksieproses het hy besluit om ‘n administratiewe boete van R30 miljoen elk op te lê aan die befondser van N-e-FG, Corne Jansen van Rensburg (54) en die besturende direkteur, Erick du Preez (45) en skors hulle vir 30 jaar.
Boonop het die FSCA ‘n administratiewe boete van R8 miljoen aan Steyn Jansen van Rensburg (51) opgelê, hom vir 20 jaar geskors en Elia Jansen van Rensburg (75) vir 10 jaar geskors.
Die stewige boetes en uitsluitings het gekom nadat die FSCA Phahamisa Administrators (voorheen N-e-FG Administrators), N-e-FG Fund Management, The Wealth Strategist en die sleutelbestuurders ondersoek het.
Die FSCA sê in ’n verklaring die bevindinge van sy ondersoek sluit in dat kliënte se fondse belê is sonder die vereiste mandaat en in entiteite wat nie deur die FSCA gereguleer word nie. Daarbenewens het die FSCA bevind dat van die sleutelbestuurders ‘n belang gehad het in die entiteite waar hulle kliënte se fondse belê het.
Die owerheid sê die partye wat ondersoek is, het bepalings van die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor, Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, die Algemene Gedragskode vir Gemagtigde Finansiële Diensteverskaffers en Verteenwoordigers, Wet op Finansiële Instellings (Beskerming van Fondse) en die Bepaling van Geskiktheid Vereistes vir Finansiële Dienste Verskaffers oortree.
Die FSCA sê voordat hy hierdie stappe gedoen het, het hy sy ondersoekverslag aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig en is bewus daarvan dat van die klaers ook kriminele sake geopen het. Die FSCA sal die NVG aktief bystaan indien versoek.
Luidens ’n verklaring van die FSCA wat in Februarie verlede jaar uitgereik is, het die statutêre bestuurder wat deur die FSCA aangestel is bevind dat R470 miljoen van kliënte se fondse ontbreek by N-e-FG, wat pensioenfondse belê het.
Jansen van Rensburg het N-e-FG, wat vir New-e-conomy Financial Group staan, in 1999 gestig. N-e-FG het homself aan beleggers verkoop as ‘n deursigtige firma met “verantwoordelike verslagdoening” en gesê hy neem volle verantwoordelikheid vir sy beleggingsbesluite.
N-e-FG het teen die einde van 2021 in sakeredding gegaan en kort nadat die FSCA sy lisensie om as ‘n finansiëlediensteverskaffer te werk teruggetrek het voordat hy die statutêre bestuurder in Mei 2022 aangestel het om toesig te hou oor hoe N-e-FG pensioenfondse bestuur het omdat hy versuim het om verantwoordelik te bestuur die fondse onder sy administrasie.
Volgens die verslag van die statutêre bestuurder, Krishen Sukdev, het die maatskappy nie gehou by die beleggingsmandate wat met kliënte onderteken is nie en die fondse in hoërisiko-aandele gesit, terwyl die uitvoerende beamptes lede “voortdurend mislei” het oor die waarde en waar hulle beleggings is.
N-e-FG het hoofsaaklik met pensioenfondse vir mynwerkers en werknemers in die sekuriteitsbedryf gehandel.
