Jackie Macie, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling van Mpumalanga, het die aanvalle en teistering op motoriste deur taxiverenigings veroordeel en bygevoeg dat die wet sy gang sal neem.
Verskeie video’s het onlangs op sosiale media-platforms verskyn wat wys hoe motoriste deur taxiverenigings se patrollievoertuie onderskep word nadat die private motoriste rylopers opgelaai het.
Die rumoerige taxiverenigingpersoneel hou vol motoriste het geen reg om vervoer aan rylopers te verskaf nie. Hulle voer aan dat privaat motoriste nie die voetgangers moet oplaai nie – al is dit mense wat aan die motoriste bekend is.
So ver terug as 2022 is berig dat taxiverenigings deur hul sogenaamde patrolliemotors voertuie onderskep het wat stilhou om voetgangers langs die pad op te laai. Die beleërde motoriste word dan swaar beboet, en hul motorsleutels word soms gekonfiskeer.
Mense wend hulle soms tot rylopery op die paaie omdat hulle nie geld het vir taxi-tariewe nie.
In een van die voorvalle wat op video vasgevang is, het die bestuurder van ‘n Chevrolet Spark die toorn verduur van ‘n dreigende taxi-vereniging se patrollie Toyota Corolla, met die taxibeampte wat onveilig op die snelweg gery het en die bewegende Chevrolet Spark aanhoudend geblokkeer het.
Die voorval het glo in Mpumalanga gebeur – ‘n provinsie wat sinoniem geword het met die onregmatige optrede deur taxi-verenigings.
LUR Jackie Macie het gesê hoewel motoriste ontmoedig word om saamrygeleenthede aan voetgangers op die pad te gee, het taxi-verenigings om veiligheidsredes geen reg om in te gryp of die bestuurders te onderskep nie.
“As die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling is ons bekommerd oor die roekelose gedrag van ons motoriste op ons paaie, daarom veroordeel ons dit in die sterkste moontlike terme wat dit verdien. As die departement gaan ons nie ons arms vou, kyk wat gebeur nie, want dit veroorsaak op die ou end onnodige ongelukke en (die verlies van) onskuldige mense se lewens op ons paaie,” het Macie in ‘n onderhoud met die uitsaaier Newzroom Africa gesê.
“Dit is nie ‘n kriminele oortreding vir ‘n mens om langs die pad te staan en ‘n saamrygeleentheid van enige motoris te vra nie. Ons doen egter ‘n beroep op ons gemeenskappe dat hulle die openbare vervoer moet gebruik wat vir hulle ontwerp is, want ons het ‘n aantal ernstige uitdagings teëgekom waar mense stap, ‘n saamrygeleentheid van vreemdelinge kry en jy sal vind dat iemand vermis word of iewers dood gevind word.”
Die LUR het gesê voetgangers loop soms op die paaie omdat hulle nie genoeg taxi-tariewe het om die vasgestelde taxikoste te betaal nie.
“Ons sê taxi-eienaars kan nie die wet in hul hande neem nie. Wanneer hulle patrolleer, teister hulle hierdie mense wat stappers ‘n saamrygeleentheid gee. Met die proses veroorsaak hulle ongelukke, daarom het ons as departement aangedui dat dit ‘n oortreding is, want vir die voorval waarvan ons praat, is daar ‘n kriminele saak wat geopen is,” het Macie aan die televisienuuskanaal gesê.
Hy het gesê die slagoffer – die Chevrolet Spark-bestuurder – het na vore gekom.
Die taxivereniging se patrolliebeampte het na bewering op die Chevrolet Spark-sleutels beslag gelê en ‘n “boete” van R2 500 van die motoris geëis.
Volgens mediaberigte het die Chevrolet Spark-bestuurder wat as Themba Mahlangu geïdentifiseer is, gesê die polisie was nie behulpsaam nie omdat hy baklei het om sy motorsleutels terug te kry.
Macie het daarop aangedring dat taxiverenigings nie wetstoepassingsowerhede is nie en geen reg het om met motoriste in te meng nie.
“Daar is geen wet wat sê dat as hulle sekuriteit het, hulle die wet moet afdwing nie, want ons het aangewese owerhede wat dit hanteer. Wanneer hulle (taxiverenigings) dit doen, oortree hulle self die wet. Hulle neem die reg in hul hande. Dit is ’n saak wat ons nie gaan duld nie,” het die LUR gesê.
Verskeie sosialemediagebruikers het die taxi-verenigings regoor Suid-Afrika gekritiseer omdat hulle private motoriste se regte skend.
Die sosiale media-gebruikers het ook die polisie gekritiseer omdat hulle nie aksie neem nie aangesien die “wetteloosheid” steeds verwoesting op die paaie veroorsaak.
In sekere dele van Pretoria word berig dat motoriste wat goedere en mense vervoer dikwels deur die taxi-verenigings onderskep en “beboet” word.
Die skrikbewind wat minibus-taxiverenigings op openbare paaie in Mpumalanga voer om die absolute monopolie oor vervoerdienste, is skokkend en onaanvaarbaar en die VF+ eis optrede op die hoogste vlak.
Dit blyk of die owerhede voete sleep met optrede. Tot op hede het die polisie nog niemand in hegtenis geneem nie en die VF+ het verlede week die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, in die nasionale wetgewer versoek om op te tree.
“Dit is vir die VF+ onaanvaarbaar dat daar nie reeds daadwerklik opgetree is nie. Die polisie het ‘n goeie idee wie die oortreders is, daar is videomateriaal en ooggetuies beskikbaar en Santaco se dreigemente is openlik,” voeg Weber by. “Tog is nemand nog aangekeer nie en die LUR beloof eers optrede nadat hy met die feite gekonfronteer word.”
Hy vind dit skokkend dat wettelose elemente ‘n skrikbewing op die provinsie se paaie voer terwyl die owerhede dit blykbaar swyend gade slaan.
Die VF+ sal die situasie volg om seker te maak daar word opgetree om dié wetteloosheid stop te sit.
