Willie Cloete VOORSITTER VOLKSKRAG
Het u al gewonder hoekom daar hoegenaamd ‘n blanke Volk hier in Suid-Afrika gevorm het? Hoekom hulle ‘n eie identiteit opgebou het? Hoekom daar ‘n eie taal Afrikaans ontstaan het? Hoekom daar vir hulle ‘n eie land gegee was?
En dan, hoekom is daardie Volk vandag moedeloos, voel verraai en wil nie meer op staan vir sy regte nie?
Dit is ‘n vraag wat baie van ons wil beantwoord hê.
Hierdie is my eie mening.
In 1652 het daar blankes hier aangekom, party het gebly en ander het weer aanbeweeg soos Jan van Riebeeck en tog is daar wel ‘n nuwe volk in wording geplant aan die suidpunt van Afrika. Hoekom het hier ‘n volksplanting plaasgevind? Hoekom?
Ek glo dit was ‘n daad van God om ‘n Volk vir hom hier af te sonder. Hierdie nuwe volk het gekom van verskeie Europese Volke.
Die Volk het net Een gevrees en dit is God alleen, niemand anders nie. Hulle het kinders in die naam van God grootgemaak en dit is so oorgedra van geslag tot geslag en so is die Christen geloof lewendig gehou. Deur die hele Groot Trek heen het hulle vir God aangeroep wanneer die bose magte van Afrika hulle bedreig het en is telkemale uit die bose magte se hande gered.
Die slag van Bloedrivier het weereens bevestig dat God die Volk hier geplaas het, dat hulle selfs ‘n Gelofte met God aangegaan het as hy hulle sou red, dat die dag vir altyd sou gedenk word as ‘n dag wat aan God gewy sal word. Die hele Groot Trek was ‘n geloofsdaad en ons sien hoe hierdie geloofsoortuiging verder in die Volk se geskiedenis soos ‘n goue draad loop. Oral waar daar ‘n dorp gevestig is, is van die eerste dinge wat gedoen was om ‘plek van byeenkoms te bou vir gelowiges, naamlik ‘n kerk.
Die huisgesin was opgevoed aan die hand van die Bybel, naamlik die Woord van God. Ek sê nie hiermee almal het dit presies so gedoen nie, daar was ook die wat afgedwaal het.
Ek is ook grootgemaak met die wete dat God is goed en groot, maar ‘n Volk wat Hy vir hom hier afgesonder het, moet ook gehoorsaam bly aan Sy wette en Sy doel waarvoor Hy hulle hier geplaas het.
Het die Volk gehoorsaam gebly? Oordeel self.
Die Volk is getoets met die Vryheidsoorloë en hulle het nog sterker daaruit gekom en met ‘n vaste geloof en vertroue het die Volk herstel en alles weer opgebou. Het dit werklik gebeur? JA dit het!
Die Volk het welvarend geword en wou ook met andere volke kompeteer. Daar is welvaart opgebou ongekend in die wêreld vir so ‘n klein Volk. Daar was natuurlik ook die jaloerse volke wat nie kon vat dat ‘n volk van God so welvarend kan wees nie. Hulle wou dit ten alle koste vernietig. Hoe?
Deur hulle leier te vermoor en die Volk nog meer welvaart te gee en op die koop toe sport en al die genietinge wat die wereld maar kan bied.
Wat was die resultaat ? Die Volk het al hoe meer op homself vertrou in wat hy doen, God was nie meer die sentrale figuur in ons lewens nie maar is vervang met EK.
Rykdom en die EK het nou die sentrale tema geword in ons lewens, kan ek beter wees as my kollega, buurman, of familie? Ons het begin selfsugtig lewe en verby diegene te kyk wat nie so bevoorreg was nie. Ons lewe net vir ons self!
Ons wil met alle mag net die beste wees, ons wil nie agter bly nie, ons moet ook TV hê, ons moet vir die buiteland wys ons is op die sportveld die beste, ons moet selfs op Sondae sport beoefen (ons speel liewer gholf op ‘n Sondagoggend as om kerk toe gaan), ons winkels moet oop wees sewe dae ‘n week, ons moet ons self geniet.
Ons het na ons voormanne geluister, ALMAL moet toegee dat ons “normaal” kan wees in die wêreld, nog meer handel, nog meer sport, dan moet ons integrasie toelaat. Eers stadig en later al hoe vinniger. Ons beskuldig FW as die groot verraaier, ja hy het die finale spyker ingeslaan maar wie het hom daar gesit en van sy voorgangers, die VOLK. Ons het ons self verraai deur die voormanne in die stoel te hou ten spyte van waarskuwings van ander mense. Ons het geglo dit sal nie gebeur nie, daar sal wigte en teen wigte wees, ons vertrou HULLE.
Die wat apart gehou was, moet nou ook kon deel in die welvaart en oor ons regeer. Ons manne het gesê hulle sal ons beskerm met ‘n grondwet wat helaas nie die papier werd was waarop dit staan nie. Daar is beskuldigings van bedrog tydens die oorgawe ens. Maar die Volk het dit net gelate aanvaar en niks vir jare gedoen nie.
Die verandering het stadig geskied, die Volk het stadig verarm, werk verloor, kontrakte verloor, of jy moes jou gewete verkrag met swart ekonomiese bemagtiging. Dit het die armstes die swaarste getref en die middelklas kon nog half oorleef, maar word ook nou getref. Dit alles het tot gevolg grootskaalse verarming van ons Volk.
Maar wakker word, nee nog nie, ons stry eerder oor beuselagtighede en hou die Volk verdeeld. Ons laat toe dat sommige mense die debatte lewendig hou en ons Volk verdeeld hou.
Daar is groepe wat die Volk wil verenig, maar self hulle word verdag gemaak deur dat daar baklei word oor die betekenis van kleure en simbole of enige iets waarmee ons hierdie groep in diskrediet kan bring.
Die 16 Desember Gelofte is lank vergete en ons het ook van God vergeet want dit gaan nog goed met ons. Ek weet daar is diegene wat vir my sal sê ons moet nou nie ‘n preek uitpak nie, want dit pas nie by die gegewe situasie nie, maar helaas vriend as jy eendag gaan wakker skrik, is dit vir ons as Volk dalk reeds te laat!
Nou waarom sit ons vandag op die ashoop? Juis oor dit wat ek hierbo genoem het.
Oplossing(s) ?
Dit gaan nie met ‘n towerwoord gebeur nie. Nou wat moet die Volk doen?
1. Gaan op julle knieë en vra om vergifnis as ‘n volk, want ons as ‘n Volk het verkeerd gedoen in die oë van God. Ja self jy wat nie vir dit gestem het nie. Gaan doen ‘n self ondersoek en jy sal selfs vind jy is ook aandadig, al is dit hoe klein.
2. Reik uit na mekaar, onder ons eie Volksgenote en help mekaar opstaan uit die ashoop, nie die wat lê nog skop nie. Doen sendingwerk onder ons eie mense.
3. Leiers reik uit na mekaar en moet nie net jou eie agenda najaag nie, luister na mekaar en vind ‘n gemene saak en verenig die Volk. Wees nederig, want julle dien nie julle self nie, maar God en julle Volk.
4. Word weer ’n Volk waarop ons trots kan wees en wat net vir God alleen dien en niks en niemand anders nie.
5. Glo dat God ons weer ’n vry Volk sal maak.
Dus moet nie in my skrywe enige versteekte agenda sien nie.
Ek is net lief vir God en my Volk, wat hulle bly blind hou vir wat aangaan in die land en op ons wag, daarom die skrywe aan my Volk en ons leiers, verenig in die naam van God en ons sal oorleef om vir ons kinders se kinders ’n toekoms te gee.

Ons voorvaders het ‘n Gelofte afgelê en Hy het ons geseën.
Ons troetel ‘n adder in die boesem of ons dit wil erken of nie. DRAAI na GOD. HY is bowenal die Een voor wie ons gaan staan en rekenskap gee van elke ding wat ons op aarde gedoen het. Dan kan ons nie FW of wie ookal die skuld gee nie……wat het jy gedoen om Sy opdragte gestand te hou en na te volg. Wat doen of het jy gedoen om die Goddelike opdrag oor te dra?
Amen.