Wonderfontein-ontwikkeling – AfriForum stel Metsimaholo op terme

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof, het die munisipaliteit bloot die vereistes wat hul eie tribunaal gestel het, geïgnoreer en met die ontwikkeling begin.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit op terme van die ontwikkeling by Wonderfontein te stel.

Dit volg nadat AfriForum in Augustus die munisipaliteit se planne vir die ontwikkeling aangevra het, maar die munisipaliteit nie daaraan gehoor gegee het nie.

Hierdie ontwikkeling, wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg stadsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo stadsbeplanningstribunaal goedgekeur is.

Die ontwikkeling is egter glo afgeskop voordat al die voorwaardes wat die tribunaal gestel het nagekom is.

“Die munisipaliteit voldoen nie aan hul eie reëls en regulasies nie en daarom is ons gedwing om regstappe teen die munisipaliteit te neem sou hulle voortgaan.

“Die impak op die gemeenskap as die ontwikkeling voortgaan sonder om aan die gedetailleerde vereistes te voldoen, is astronomies en sal die gemeenskap sowel as die omgewing benadeel.”

“Ons is oortuig daarvan dat die munisipaliteit nie die nodige planne het soos vereis word nie. Om aan die vereistes te voldoen, beteken dit dat miljoene rande se uitgawes aangegaan moet word voordat die ontwikkeling kan begin en die regering het nie daardie fondse beskikbaar nie. Die munisipaliteit het gesê dat hulle wel planne het, maar ons het nog niks in swart en wit ontvang nie.”

Vereistes waaraan voldoen moet word, sluit in:

– konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
– opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
aanstelling van ‘n onafhanklike kontrakteur om ‘n volledige infrastruktuurbeoordeling uit te voer;
– ontwerp en bou ‘n nuwe rioolaanleg om voldoende rioolvuil vir die ontwikkeling te voorsien;
die bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
– indiening van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat in die dorpsontwikkelingsgebied gebou gaan word (hierdie planne moet binne ses maande na die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).

Ontwikkeling sonder om aan die gedetailleerde vereistes te voldoen sal veroorsaak dat nog meer rou riool in die Vaalrivier vloei wat reeds ‘n omgewingsramp is.

“Daar sal verder nie genoeg water wees om die ontwikkeling van skoon drinkwater te voorsien nie. As die ontwikkeling halfpad gestop het weens al die kwessies wat nie in plek is nie, laat dit die gebied oop vir grondgrype en besetting, wat weer ’n groot veiligheidsrisiko vir die gemeenskap inhou.

“Om al hierdie redes is dit vir ons belangrik om te verseker dat die ontwikkeling op die regte manier plaasvind en dat al die nodige planne in plek is,” sluit Grobbelaar af.

Indien die Metsimaholo-munisipaliteit nie teen Donderdag 3 Oktober die nodige planne verskaf nie, sal die organisasie die hof nader om te verseker dat die ontwikkeling op die gepaste wyse plaasvind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui