Terwyl twee verdagtes nog op vrye voet is, is een man in hegtenis geneem omdat hy na bewering op die Nederlandse toeriste geskiet en een op sy hand getref het.
’n 42-jarige verdagte sal volgende week in die Barberton-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en roof waarby twee Nederlandse toeriste betrokke was.
Die man is een van drie verdagtes wat na bewering op die egpaar van Nederland losgebrand het en die man op sy hand raakgeskiet het.
Die toeriste het Dinsdag om 11:40 op die R35 tussen Barberton en Badplaasin ‘n gehuurde Toyota Cross gereis toe die voorval gebeur het. Die groep het na bewering die egpaar van hul besittings beroof.
Kaptein Sekgotodi Dineo het verduidelik die drie verdagtes, wat ‘n donker VW Polo bestuur het, het die egpaar op die pad verbygesteek.
“[Die toeriste] het aangehou ry toe die Polo met drie insittendes parallel met hul voertuig gery en op die bestuurder losgebrand het en die bestuurder aan sy regterhand beseer het. Hulle het hul voertuig gestop,” het die kapt.
“Drie verdagtes het die slagoffers met vuurwapens gedreig en hulle van hul besittings beroof.”
Dit het twee selfone, drie bankkaarte, R5 000 kontant, paspoorte en ‘n internasionale bestuurslisensie ingesluit.
Die groep het na Barberton gevlug.
Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Hawks) het Donderdag ‘n intelligensie-gedrewe operasie gelei na aanleiding van inligting wat ontvang is oor waar die verdagte is.
“‘n Span bestaande uit Nelspruit-gebaseerde ondersoek na ernstige georganiseerde misdaad, misdaadintelligensie en vliegspan het die inligting geoperasionaliseer,” het Dineo gesê.
“Die verdagte is gearresteer en in besit gevind van die gesteelde items wat aan die slagoffers behoort.” Dit het al die gesteelde items sowel as die gehuurde voertuig ingesluit.
Die verdagte is aangekla en aangehou hangende sy eerste hofverskyning Maandag.
Provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek Generaal-majoor Gerber het die multidissiplinêre span toegejuig vir die spoedige arrestasie van die verdagte en die herwinning van die gesteelde eiendom.
Hy het ’n streng waarskuwing gegee aan misdadigers wat toeriste dreig terwyl hulle die provinsie besoek en die ekonomie ’n hupstoot gee.
Gerber het enigiemand met inligting oor waar die uitstaande twee verdagtes is, versoek om die ondersoekbeampte, speur-ao Elbert De Lange, by 071 481 2815 te kontak.
