Ses vermeende transitorowers is dood in skietgeveg met die polisie in Germiston

Die skietgeveg het Saterdagoggend in Germiston plaasgevind.

’n Bende vermeende transitorowers (CIT) is dood in skietgeveg met die polisie aan die Oos-Rand in Gauteng.

Die skietgeveg het Saterdagoggend in die Germiston CBD, Ekurhuleni, plaasgevind.

Na wat verneem word, het die skietery plaasgevind toe die polisie die vermeende rowers genader het toe hulle probeer het om die CIT-voertuig te beroof.

Die polisie het gesê ‘n multi-dissiplinêre span bestaande uit Sapd teenbende-eenheid, die Gautengse verkeerspolisie se lugvleuel en taktiese reaksie en ander wetstoepassingsagentskappe het inligting oor die rooftog ontvang.

Polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Mavela Masondo, het gesê toe wetstoepassers die gebied genader het, is ‘n uitkykpunt vir die rowersvoertuig gevestig ná die gewapende roof van ‘n G4S-kontantwa.

“Lede het na die verdagtes se voertuig begin soek en gesien hoe dit roekeloos ry. Lede het probeer om die verdagtes aan te keer en hulle het dadelik op die lede begin skiet. Lede het teruggeskiet en verdagtes se voertuig het beheer verloor en in ‘n paal vasgery.

“Ses verdagtes is noodlottig gewond en nog ‘n verdagte is in ‘n ernstige toestand. ’n AK 47-geweer, vier handwapens en die kontanttrollie is teruggevind. Die voertuig wat die verdagtes gebruik het, is geïdentifiseer as gesteel in Brooklyn,” het Masondo gesê.

Tommy Mthombeni, Gautengse polisiekommissaris, het gesê die skietgeveg is slegs die begin van die polisie se verskerpte benadering tot misdaadvoorkoming in die provinsie.

“Ons moet net hierdie misdadigers waarsku, soos ek op die mediaruimte aangedui het, dat as hulle nie ophou met wat hulle ook al doen nie, hulle sal voel asof hulle bo-op die vuur sit.

“Hulle moet kennis neem van wie ook al beplan om ‘n misdaad in hierdie provinsie uit te voer, hulle sal die hitte voel, aangesien ons weet dat sommige van hulle waaghalsig is. So, ons is lus vir hulle, en ons sal hulle op straat ontmoet,” het Mthombeni gesê.

Senso Mchunu, minister van polisie, het verlede week onthul dat die aantal kontant-in-transito-rooftogte in KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Gauteng steeds kommerwekkend is.

Mchunu het die kwartaallikse misdaadstatistieke aangekondig wat reflekteer op misdade wat gedurende die laaste kwartaal van die vorige boekjaar (1 Januarie 2024 – 31 Maart 2024) sowel as die eerste kwartaal plaasgevind het.

Mchunu het gesê hoewel daar kommer is, het die algehele aantal CIT-rooftogte verminder.

“Ons sal met verskeie kontant-in transito-maatskappye vergader om maatreëls te bespreek wat daarop gemik is om hierdie misdaad hok te slaan,” het Mchunu gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui