“Ons kan ons net die pyn, lyding en frustrasie voorstel wat sy gesin moet ervaar.”
Dat die saak rakende Dylan Bothma se dood nou na ʼn ander polisiestasie geskuif is en deur ʼn nuwe ondersoekbeampte ondersoek gaan word, is volgens die drukgroep Action Society ʼn deurbraak waarop die familie gewag het.
Dylan is op 24 Junie verlede jaar in ʼn hospitaal in Alberton oorlede nadat hy die vorige aand in ʼn tref-en-trap-ongeluk betrokke was. Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen, maar dit is intussen na ʼn saak van strafbare manslag verander.
Elsie Bothma, Dylan se ma, het die afgelope maande self speurder gespeel om vas te stel hoe haar 18-jarige seun dood is. Volgens inligting wat sy kon bekom, het ʼn groep tieners, wat saam met hom by ʼn partytjie was, hom aangerand en toe vir dood in die pad agtergelaat nadat hy deur ʼn bakkie getref is.
Volgens Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society, is die saak intussen na die Springs-polisiestasie oorgeplaas. Dit was ʼn versoek van die familie weens die gebrek aan vordering in die ondersoek en volgens Du Preez het dit nou gebeur onder meer danksy druk van Action Society.
“Ons sal voortgaan om druk uit te oefen totdat Dylan se familie antwoorde ontvang op die vrae wat hulle martel sedert daardie aaklige aand wat hul hele lewe omvergewerp het.”
Maroela Media het vroeër berig Dylan is die aand van 23 Junie deur sy pa, Daniël, by ʼn tienerpartytjie in Heidelberg, Gauteng, afgelaai. Dit was die laaste keer wat hy sy seun lewend gesien het. Toe sy pa hom by die partytjie wou oplaai, is hy meegedeel Dylan is te voet daar weg. Sy ouers is eers later die aand meegedeel dat daar ʼn tref-en-trap-ongeluk was.
By hul aankoms by die Life Suikerbosrand-hospitaal is die erg beseerde Dylan pas uit die ambulans gestoot. Weens die aard van sy beserings is Dylan van daar na die Netcare Alberton-hospitaal oorgeplaas, waar hy later dood is.
