“Die voormalige sake-eienaar van die nou ontbinde Estina-maatskappy is nou ook ingesluit onder die verdagtes wat in die saak aangekla word.”
Die verhoor vir die omstrede Vrystaatse Estina Dairy Farm-projeksaak, waar miljoene se staatsfondse glo deur diensverskaffers met die hulp van staatsamptenare gebuit is, sal uiteindelik Maandag (5/8) ‘n aanvang neem.
Verdagtes sluit in onder meer die voormalige minister van minerale hulpbronne en Vrystaatse LUR vir Landbou Mosebenzi Zwane, voormalige HOD Peter Mbana Thabethe, voormalige finansiële hoof Seipati Dhlamini, Gupta-assosieerde Ugeshni Governder, Ronica Ragavan, en voormalige hoofbestuurder Takisi Masiteng. Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie en geldwassery.
Tydens hul hofverskyning in Augustus verlede jaar het regterpresident Cagney Musi van die Vrystaatse hooggeregshof die datums vir die jarelange aangeleentheid van 5 Augustus tot 13 September 2024 vir verhoor vasgestel.
Die Estina-aangeleentheid is in 2022 heropen nadat dit in 2018 voorlopig teruggetrek is weens ‘n gebrek aan bewyse teen verdagtes, insluitend die Gupta-vennote.
OFM-nuus het vroeër berig die voormalige sake-eienaar van die nou ontbinde Estina-maatskappy, waar miljoene rande glo deur staatsamptenare en diensverskaffers gesteel is, is onder die verdagtes wat in die saak aangekla word.
Hierdie kriminele saak was ook in die jongste aflewering van die Staatskapingsverslag wat deur die voorsitter van die kommissie en voormalige hoofregter, Raymond Zondo, aan president Cyril Ramaphosa oorhandig is.
Die Vrystaatse AksieSA-voorsitter, Patricia Kopane, het gesê dei Estina-saak is ‘n ernstige misdaad wat teen die staat en sy mense gepleeg word.
Estina was onder die 16 wat deur die NVG se Onafhanklike Direktoraat aangekla is in verband met bedrog, korrupsie en geldwassery.
Kamal Vasram is ook deur die staat aangekla omdat hy na bewering deel was van die oortreding in die projek. Meer as 80 plaaslike boere in Vrede, in die Phumelele Plaaslike Munisipaliteit, was in limbo na die korrupsie in die projek. Zwane kom van die Vrede-omgewing. (OFM Nuus)
