Ouers word aangemoedig om kinders oor veiligheid op te voed nadat ‘n hoërskoolleerling in Kriel, Mpumalanga, uit die skool ontvoer is.
Ouers en die publiek is aangeraai om hul kinders op te voed dat hulle nie saam met iemand die skool mag verlaat nie, tensy dit spesiaal deur ouers gereël en die kind ingelig is.
Dit kom nadat ‘n minderjarige by ‘n hoërskool in Kriel, Mpumalanga, Maandag uit die skool ontvoer is.
Kaptein Dineo Lucy Sekgotodi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê op die betrokke dag het vier verdagtes, ‘n vrou en drie mans, die hoërskool besoek.
Slagoffer het gesê haar ma is siek
Met aankoms by die skool het die vroulike verdagte ingegaan terwyl haar makkers in die motor gebly het. Sy het glo ’n leerling gebel en haar gevra om die slagoffer te gaan roep. Die verdagte het glo vir die leerling gesê om vir die slagoffer te sê dat haar ma siek is.
“Die slagoffer het aangehardloop gekom, en hulle het vir haar gesê dat hulle gestuur is om haar te gaan haal. Die slagoffer het die voertuig binnegegaan, en hulle het weggejaag,” het Sekgotodi gesê.
Die verdagtes van ontvoering het beweer dat die slagoffer se ma hulle geld skuld, en hulle het oproepe begin maak en ‘n R200 000 losprys geëis.
Die slagoffer se ma, wat ‘n sakevrou is, het aan haar kind se vermeende ontvoerders gesê sy het nie die geëisde losprysgeld nie, maar het slegs R9 000.
Sekgotodi het gesê die ma het drie bankrekeninge gekry om die geld deur middel van kontantstuur te deponeer, en nadat die geld gedeponeer is, het die verdagtes die geld onttrek.
Die saak is ook by die polisie aangemeld, en die Direktoraat Prioriteitsmisdaadondersoek se Middelburg-gebaseerde Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek, Suid-Afrikaanse Polisiediens (Saps) in Kriel, Nkangala-distrik, East Rand High Way Patrol, K9 East Rand, Middelburg Highway Patrol , Graphite Security Company, en die Saps se selfmoord- en gyselaar-onderhandelaar het gereageer.
“ ’n Voorlopige ondersoek is gedoen. Die voertuig van die verdagtes is in die omgewing uitgeken waar hulle die geld onttrek het. Die ondersoek het die span na Vorsloorus in Gauteng gelei, waar die vier verdagtes in hegtenis geneem is,” het Sekgotodi gesê.
Die kind is ongedeerd gered, en die losprysgeld is teruggevind.
Die span se verdere ondersoek het hulle na Kriel gelei, waar drie ander verdagtes, ‘n vrou en twee mans, in hegtenis geneem en aangehou is.
Al sewe verdagtes het Donderdag voor die Kriel-landdroshof verskyn waar hulle borgtog geweier is.
Die saak is tot Maandag, 29 Julie 2024 uitgestel vir regshulp en private prokureurs se aanstellings.
Die provinsiale hoof van die Valke, generaal-majoor Gerber, het die werk wat die span gedoen het geprys en die span geloof vir vinnige optrede en die hereniging van die familie.
Die ondersoek duur voort.
‘Verseker veiligheid by skole en beperk toegang’
Gerber het ook bystand van alle gemeenskapslede versoek om hande te vat om die plaag van ontvoeringsvoorvalle, wat in die provinsie aan die toeneem is, te beveg.
“Die ouers en die publiek word aangeraai om hul kinders sensitief te maak dat hulle nie saam met iemand moet vertrek nie, tensy dit spesifiek deur die ouers gereël en die kind of persone in beheer ingelig is. Opvoeders word versoek om leerders sensitief te maak oor die kwessie tydens byeenkomste en vergaderings. Die departement word versoek om veiligheid by skole te verseker en toegang tot skoolpersele te beperk,” het die generaal gesê.
