‘n Onbekende persoon het die hof gebel en aangekondig dat daar ‘n bom is wat volgens om 10h30 sou afgaan.
Die landdroshof in Durban is ontruim ná ‘n beweerde bomdreigement.
Polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, het gesê beamptes is besig met ‘n soektog by die perseel.
“Die plofstof en K9-eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in KwaZulu-Natal is besig met ‘n voorsorgsoektog en skandering by die Durbanse landdroshof.
“Dit is nadat ‘n onbekende persoon die hof gebel het en aangekondig het dat daar ‘n bom is wat volgens hom om 10:30 sou afgaan. Die gebou is as voorsorgmaatreël ontruim,” het Netshiunda gesê.
Daar is verskeie hoëprofielsake wat in die Durbanse hooggeregshof, wat in die landdroshowe sit, aangehoor word. Dit sluit in die korrupsiesaak waarby die voormalige eThekwini-burgemeester Zandile Gumede betrokke is en die saak van vier mans wat van die 2019-ontvoering en poging tot afpersing van R154 miljoen vir die veilige terugkeer van die Durbanse sakevrou Sandra Munsamy aangekla is.
