NATAL. – Brandbestryders het vanoggend tydens ‘n veldbrand in die Boston-area buite Howick gesterf.
Chris Pappas, burgemeester van uMngeni- plaaslike munisipaliteit, sê luidens ‘n verklaring drie vrouebrandbestryders het gesterf. Nog vyf brandbestryders veg vir hulle lewens. Die munispaliteit het medelye aan families van die afgestorwenes uitgespreek.
Roland Robertson van Midlands EMS sê volgens ‘n persverklaring is dié diens omstreeks 11:00 na ‘n toneel gestuur waar verskeie brandbestryders tydens ‘n veldbrand beseer is. Paramedici is deur ‘n gruweltoneel begroet waar brandbestryders steeds besig was om te brand en ander reeds gesterf het. Daar is gewerk om die pasiënte te stabiliseer, terwyl die brand voortgewoed het en ‘n vliegtuig probeer het om die vlamme te blus.
Robertson sê daar is besluit om meer hulp, sowel as ‘n lugambulans van Netcare911 met ekstra toerusting, te ontbied. Drie brandbestryders is aan ventilators gekoppel, waarna een na ‘n hospitaal gevlieg is. Nog twee wat kritiek beseer is, het dringende gevorderde lewensondersteunende behandeling vereis.
Alle pasiënte is eers op die toneel behandel voordat hulle vir verdere mediese behandeling na ‘n hospitaal vervoer is.
