WaterCAN doen ‘n beroep op munisipaliteite om die publiek te waarsku oor besmette kraanwater
11 munisipaliteite regoor ses provinsies druip konsekwent watergehaltetoetse sonder om inwoners te waarsku
Die Bloudruppelverslag wat in 2023 vrygestel is, beklemtoon die feit dat ten minste 46% van drinkstelsels nie aan mikrobiologiese standaarde voldoen nie. Volgens die regulasies ingevolge die Wet op Waterdienste is dit verpligtend vir ‘n munisipaliteit om gebruikers in te lig as hy herhaaldelik vind dat watergehalte nie aan basiese standaarde voldoen nie.
“Ons sien nie genoeg kookwater-kennisgewings om te pas by die situasie wat in die Bloudruppelverslag weerspieël word nie. Dit is onwettig en dit plaas mense se lewens in gevaar,” sê dr Ferrial Adam en wys daarop dat dit onwaarskynlik is dat die probleme van watergehalte wat in die verslag aangeteken is, almal opgelos is.
“Hoekom reik die munisipaliteite nie kennisgewings uit wat inwoners waarsku om water in onveilige gebiede te kook nie?”
Volgens die proses wat gevolg moet word, moet elke mislukking (dit is die teenwoordigheid van E.coli of bakterieë in drinkwater) ‘n ondersoek veroorsaak en nog ‘n toets moet gedoen word. In gevalle waar die hermonster geneem word en mislukking bevestig word, moet ‘n advieskennisgewing (of kookwater-kennisgewing) in die openbaar uitgereik word om gebruikers te waarsku oor die kwaliteit van die drinkwater.
WaterCAN het vasgestel dat 11 munisipaliteite in ses provinsies herhaalde oortreders is deurdat hulle E.coli-mislukkings het en kookwaarskuwingskennisgewings moet uitreik. Dit is waterdiensowerhede wat konsekwente mislukkings gehad het en die meeste was herhaal in die afgelope drie tot ses maande. Die volgende is die herhaalde oortreders:
- Pretoria (Stad Tshwane), Gauteng
- Blue Crane Plaaslike Munisipaliteit, Oos-Kaap
- Port Edward (Alfred Nzo Distriksmunisipaliteit), Oos-Kaap
- Chris Hani LM, Oos-Kaap
- Theunissen (Masilonyana) LM, Vrystaat
- Heilbron (Ngwathe) LM, Vrystaat
- Sabie/Graskop (Thaba Chweu) LM, Mpumalanga
- Kwamahlanga (Thembisile) Hani LM, Mpumalanga
- Swartruggens (Kgetlengrivier) LM, Noordwes
- Douglas/Griekwastad (Siyancuma) LM, Noord-Kaap
- Prieska/Britstown (Pixley ka Seme) DM, Noord-Kaap
“Dit is beslis nie die enigste munisipaliteite in die land wat watergehaltetoetse gedruip het nie. Dit is dus noodsaaklik dat munisipaliteite hul maandelikse toetse publiek beskikbaar stel. Mense het die reg om te weet wat die kwaliteit van die water is wat hulle drink,” sê Adam.
Daar is ook uitdagings in die Stad Johannesburg, waar daar geïsoleerde gevalle was van gemeenskaplike krane wat mislukkings getoon het, wat daarna aangespreek is. Daarbenewens het die munisipaliteit ‘n tekort aan mikro-monsterbottels in die gesig gestaar wat tydige toetsing beïnvloed het. Die gebrek aan water het ook die Stad se vermoë om water te toets, beïnvloed.
Terwyl die fokus die afgelope maande op toegang tot water en instandhouding van infrastruktuur was, kan ons nie die watergehalte-uitdagings uit die oog verloor nie. WaterCAN herhaal sy oproep vir deursigtige inligting en dat watertoetsresultate publiek beskikbaar gestel moet word.
