Vier verdagtes én geslagte én lewendige skape saam in ‘n Tazz

VRYSTAAT. – Vier verdagtes én skape in ‘n Tazz is nie die begin van ‘n grap nie. Vier verdagtes is Sondagoggend in die Tierpoort- landelike gebied vir beweerde veediefstal in hegtenis geneem.

Lt.kol. Thabo Covane sê verdagte beweging is Sondagoggend deur verskeie lede van landbou-unies wat met witligpatrollies besig was, opgemerk. Daar is gesien hoe verdagtes gesteelde vee in ‘n wit Toyota Tazz laai. Parkweg-polisie is in kennis gestel en ‘n volskaalse operasie is omstreeks 08:45 geloods. Die Tazz is 10:30 op die N1 in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein opgemerk en voorgekeer. Vier mans was saam met lewendige en geslagte skape in die voertuig. Skape is op die agtersitplek en in die kattebak gevind. Geen vervoerpermit, of bewys van eienaarskap vir die skape kon voorsien word nie

Die vier verdagtes, tussen 26 en 36 jaar, is in hegtenis geneem.

Twee afsonderlike sake, een vir die besit van gesteelde eiendom en nog ‘n saak van veediefstal, is onderskeidelik by Parkweg- en Tierpoort-polisiestasies geregistreer.

Die verdagtes sal Dinsdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui