‘n Wes-Kaapse polisiebeampte het in die hof verskyn op ‘n aanklag van moord omdat hy na bewering ‘n man doodgeskiet het nadat hy ‘n verdagte gehelp het om arrestasie te ontduik.
Phaladi Shuping, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het gesê beamptes het sers Jonathan Waterboer, wat by die misdaadvoorkomingseenheid gestasioneer was, verlede Donderdag in hegtenis geneem vir die moord op die 40-jarige Johannes Louw op 24 Mei.
Shuping het gesê die polisie het probeer om ‘n verdagte in Tulbagh aan te hou, maar dat hy daarin geslaag het om arrestasie te weerstaan, na bewering met Louw se hulp.
Die polisie is weg sonder om iemand in hegtenis te neem, maar het “later met versterking teruggekom en wou beide die verdagte en Louw arresteer”.
Weereens het hulle geweier, aangesien hulle wou weet hoekom die polisie hulle wou arresteer. Sers Waterboer het na bewering ‘n skoot afgevuur wat Louw in die buik getref het, en hy is op die toneel dood verklaar.
Waterboer het Woensdag in die Tulbagh-landdroshof verskyn waar hy op borgtog van R1 000 vrygelaat is.
Die saak is tot 29 September vir verdere ondersoek uitgestel.
