Die andersdenkende regisseur en draaiboekskrywer Bahare Lelahi is na bewering deur Iran se veiligheidsmagte vermoor en in die geheim begrawe.
’n Bron na aan haar familie het Iran International ingelig dat veiligheidsmagte geld geëis het om die plek waar sy begrawe is bekend te maak en hulle beveel om haar dood privaat te hou.
Terwyl die presiese omstandighede rondom haar dood onduidelik bly, glo menseregte-aktiviste dat dit ‘n staatsondersteunde moord is gebaseer op die optrede van staatsagente, soos die toesmeerdery van haar verdwyning, dood en ook die geheime begrafnis.
Lelahi (40), wat kortstondig aangehou is tydens die 2022 landswye betoging, het in Maart 2023 vermis geraak. In September 2022 het die dood in polisie-aanhouding van Mahsa Amini, wat die VN se feitesending op staatsowerhede vasgepen het, landwye betogings laat ontvlam, waartydens meer as 550 betogers dood is.
Andersdenkende-joernalis Masih Alinejad het op Instagram geskryf: “Ná uitgebreide navrae is haar familie deur die polisie ingelig dat Lelahi dood is en by Bibi Sakineh-begraafplaas in Karaj, naby Teheran, begrawe is.
“Ten spyte daarvan dat Bahareh vermoor en haar naam op die plek waar sy glo begrawe is, geskryf is, het die owerhede hierdie inligting vir drie maande van haar familie weerhou.”
Die aanlyn Institute for Iranian Civil Society (Tavana) het ook bronne na aan haar familie aangehaal wat beweer hulle probeer haar liggaam na hul tuisdorp Amol, in die noorde van Iran, terugbring om haar te begrawe.
Tavana het ook berig dat veiligheidsmagte burgers per telefoon ontbied. Wanneer individue gehoor gee sonder om iemand in te lig, kan hulle sonder regsverteenwoordiging aangehou word en niemand weet waar hulle is nie.
Amnestie Internasionaal het beklemtoon die Iranse owerhede het versuim om aanspreeklikheid te aanvaar vir tientalle sterftes in aanhouding, ondanks geloofwaardige berigte dat dit voortgespruit het uit marteling of ander mishandeling of die dodelike gebruik van vuurwapens en traangas deur amptenare wanneer hulle betogers gevange geneem het.
Regterlike amptenare, wat konsekwent internasionale ondersoeke na Iranse tronke en aanhoudingsentrums ontken het, beweer dat toestande in hierdie fasiliteite voldoende is. Die ervarings van talle gevangenes wat deur regtegroepe gedeel word, toon egter dat tronke en aanhoudingsentrums wat deur veiligheidsmagte bedryf word, effektief “moordgronde” geword het, veral vir andersdenkendes.
