Bibberweer sterk op pad

Net toe die meeste mense wou sê dat die winter vanjaar laat is, besluit ’n kouefront om sy opwagting te maak. Die land kan regmaak vir kouer weerstoestande wat vanaf Donderdag oor die land gevoel sal kan word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal dit Woensdag as voorloper mistig oor die Wes-Kus vanaf Port Nolloth tot Vredendal wees.

Die Vrystaat, suidelike dele van Mpumalanga, die Noord-Kaap en Wes-Kaap kan koeler temperature teen Donderdagmiddag verwag. Inwoners van die suidelike en westelike dele van die Wes-Kaap kan hul staal vir koue weer.

Aan die voorpunt van die kouefront is geïsoleerde en verspreide donderbuie wat eerste die weste van die land sal tref.

Die kouefront sal na verwagting teen Vrydag tot Sondag oor die res van die land beweeg en sy koue saamneem.

Snow Report SA se voorlopige sneeuvoorspelling dui op ’n moontlikheid van sneeu oor hoogliggende dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap, die Vrystaat en Oos-Kaap.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui