DURBAN, NATAL. – Een persoon is dood en nog een beseer toe ’n voertuig wat groente vervoer het oor die N2-brug noord van Durban getuimel het.
Volgens ALS Paramedics Medical Services het die bestuurder beheer oor die voertuig op die N2-suid verloor. ‘n Pendelaar, wat op die brugmuur gesit het, is getref, waarna die voertuig na onder tot in North Coast-weg geval het.
Die pendelaar, vermoedelik in sy dertigs, het noodlottige wonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder was die enigste insittende van die voertuig. Hy het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat hy hospitaal toe vervoer is.
Volgens ALS is die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend gemaak nie. Die SAPD was op die toneel.
