PORT ELISABETH – ‘n Verdagte wat van ‘n gewapende roof beskuldig is, het gisteraand in die see by Humewood verdrink terwyl hy glo arrestasie probeer ontwyk het.
Kapt. André Beetge sê na bewering is ‘n klaer (36) omstreeks 20:30 deur twee gewapende verdagtes in Beachweg in Brookes Hill van ‘n selfoon beroof. Die verdagtes het gevlug, maar is deur metropolisiebeamptes opgemerk en gejaag. ‘n Verdagte (39) is in hegtenis geneem, maar sy makker het glo ‘n vuurwapen neergegeooi en oor die pad na die strand gehardloop. Om van wetstoepassers te ontsnap, het die verdagte die see ingehardloop en glo agter rotse weggekruip. Met rowwe seetoestande kon die polisie se soek-en-reddingseenheid en die duikeenheid hom nie bereik nie.
Die liggaam van die verdagte het vanoggend op King’s Beach uitgespoel.
‘n Selfoon is by hom teruggekry en die replika van ‘n vuurwapen is gekonfiskeer. Die gearresteerde verdagte word op ‘n aangklag van gewapende roof aangehou.
Die ondersoek duur voort.
