NATAL. – Ses verdagtes is in die vroeë oggendure in twee afsonderlike voorvalle in Camperdown en Mariahill deur die polisie doodgeskiet.
Brig. Jay Naicker sê vier verdagtes wat vermoedelik by ‘n vlaag transitorooftogte betrokke was, is noodlottig in ‘n skietery met die polisie in Camperdown gewond.
Inligting oor waar die verdagtes hulle bevind, is bekom. Met aankoms op die toneel is op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet en die verdagtes noodlottig gewond. Drie vuurwapens is in besit van die verdagtes gevind.
Tydens nog ‘n insident het polisielede van die nasionale intervensie-eenheid inligting opgevolg van twee verdagtes wat vir klagtes van intimidasie, afpersing en ander geweldsmisdade gesoek word. Met polisielede se aankoms op die toneel by Klaarwater-hostel in Marianhill het die verdagtes op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet en die verdagtes noodlottig gewond. Twee vuurwapens is in die verdagtes se besit gevind.
“Die polisie in KwaZulu-Natal bly daartoe verbind om die wet af te dwing en te handhaaf deur misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek. Verdagtes wat die gesag van die staat uitdaag deur op polisiebeamptes te skiet, sal met die mag proporsioneel tot hul optrede beantwoord word,” het lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, wat op die toneel in Camperdown teenwoordig was, gesê.
