Mense bid vir ‘n wonderwerk nadat kontak gemaak is met ‘n man wat vasgevang was in die bourommel van die George-rampterrein – meer as 116 uur nadat die veelverdiepinggebou Maandag inmekaar gestort het.
Colin Deiner, hoof van Wes-Kaapse rampbestuur, sê hulle probeer om so gou moontlik water by die man uit te kry.
Hulle het hom gekry terwyl hulle deur die lae beton gewerk het, en dink hy was op die derde verdieping toe die gebou ineengestort het.
Die man, ‘n teëllêer, sê hy het ‘n gewig op sy bene.
Dit is kommerwekkend en twee chirurge is ingebring.
Premier Alan Winde sê dit is ‘n wonderwerk. Dit was 116 uur ná die ineenstorting.
13 dood
Die amptelike dodetal van die George-tragedie is 13, nie 14 soos voorheen deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gekommunikeer nie.
Gisteraand het George Herald die dodetal as 14 gepubliseer, soos deur Bredell gekommunikeer.
Amptelike kommunikasie vanoggend is egter dat 13 mense gesterf het.
Bredell het verduidelik dat daar ‘n dubbele verifikasieproses is – ter plaatse en by die lykshuis – voordat die amptelike syfer aan die rampbestuursentrum gekommunikeer word wat die amptelike syfer bekend maak.
Vanaf vanoggend 09:00 was die operasie al 115 uur aan die gang.
Ten tyde van publikasie:
- Geskatte individue op die terrein ten tyde van die ineenstorting: 81
- Totale mense wat uit die puin verwyder is: 41
- Mense oorlede: 13
- Mense wat nie verantwoord is nie: 40
- Mense tans in die hospitaal: 13
