’n Werknemer van die Durban-munisipaliteit se departement van water en sanitasie is Dinsdagaand binne die munisipaliteit se kantore in Springfield, Durban, doodgeskiet.
Die werknemer wat vermoor is, is nog nie geïdentifiseer nie.
News24 het berig ‘n bron na aan die ondersoek het gesê verskeie skote is afgevuur voordat die gewapende mans van die toneel gevlug het.
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, het die skietery by die kantore in Electronweg bevestig. Hy het gesê die polisie in Sydenham het ‘n moordsaak geopen.
“Die polisie het gereageer op berigte van ‘n skietery en met aankoms op die toneel is die oorledene dood aangetref in die munisipaliteit se perseel met veelvuldige skietwonde,” het Netshiunda gesê.
Hy het bygevoeg dat die motief vir die moord onbekend is en die gewapende mans moet nog geïdentifiseer word.
