’n Vrou van Hartbeespoort het Maandag ’n moontlike rooftog vrygespring toe spykers helder oordag op die Platinum N4 na Pretoria voor haar motor gegooi is.
Lize Swanepoel was om 10:30 op pad terug vanaf Pretoria op die snelweg toe twee mans in ‘n Volkswagen Polo haar na bewering van die pad af probeer druk het en spykers voor haar motor gegooi het. Haar band is vernietig.
“Ek was net verby die eerste tolhek van Pretoria toe ek die Polo gewaar. Die bestuurder het naby my gery en my oënskynlik van die pad probeer dwing. Ek het aanhou ry, my oog op hulle gehou. Toe trek hulle voor my in en die passasier gooi spykers by die venster uit. Ek het die spykers getref en my band het dadelik pap geraak.
“Ek het geweet ek moet aanhou ry. Die Polo was nog voor my. So 100m van die tolhek naby Hartbeespoort kon die kar nie meer ry nie en ek moes stop. Ek het gesien hoe die Polo omdraai. En toe gebeur ‘n wonderwerk. ’n Sanral-bakkie het opgetrek. Die Polo het weer omgedraai en weggejaag.
“Die Sanral-amptenaar het gesê hy het agter my gery en die Polo se gedrag gesien. Ek is so dankbaar vir sy bystand. Dinge kon dalk erger uitgedraai het.
“Ons is so bewus van die skerp insidente die afgelope tyd en ek is net bly ek kon kalm bly en konsentreer om na veiligheid te kom. Dit blyk ‘n heel nuwe manier van werk te wees. Ons is nie eens veilig in daglig nie,” sê Swanepoel.
