Paasfees, ’n tyd van hoop en oorwinning.

Namens die VOLKSKRAG NUUS redaksie en VOLKSKRAG wil ons almal ’n geseënde Paasfees seisoen toewens.

Volkskrag Nuus sal toe wees tussen 29 Maart 2024 en 31 Maart 2024. Berigte sal weer op 1 April 2024 verskyn

Paasfees is die tyd waar ons as Christen Volk in verootmoediging dankbaar moet wees dat JESUS vir ons aan die kruis geboet het vir ons sondes. Dit is wanneer ons uit dankbaarheid Sy opoffering moet vier. Dit is wanneer ons as Volk moet verootmoedig en ons sondes voor Sy voete moet lê.

PAASFEES! Hoera dis PAASFEES

Mag die jubel nie net wees oor ‘n lekker langnaweek van rus, pret en plesier nie, maar mag dit wees oor die REDE en BETEKENIS van Paasfees.

Die oorsprong is van Pasga af.

Ons is almal vertroud met die gedeelte uit die Ou Testament waar God die Israeliete uit Egipte, hul plek van slawerny, vrygemaak het. Die Israeliete moes die bloed van ‘n lam, sonder gebrek, aan hul deurkosyne smeer sodat die dood hulle “oorslaan”.  Hulle moes dit jaarliks vier, tydens Pasga, uit dankbaarheid van God se redding vir hulle.

Net soos die Israeliete van die Ou Testament, is ons in slawerny – vasgevang in sonde en verdien om gestraf te word.

Ons as Christene se rede vir jubel en juig oor Paasfees:

In die Nuwe Testament, toe Johannes die Doper vir Jesus sien, het hy gesê: Joh 1:36  “en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!”  

Petrus het in 1 Petrus 1:19 en 20  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
1Pe 1:20  wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

In Jesaja 53 staan daar dat dit God se wil was dat Jesus moes ly, want Hy is gestraf IN ONS PLEK en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Waarom sou God dit doen?  Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

God het jóú so lief dat Jesus, die Paaslam 1Ko 5:7  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.

Daar is nóg ‘n GROOT rede vir jubel en juig:  Ná Jesus se kruisdood, het Hy op die derde dag opgestaan uit die dood. Hy het die dood oorwin! Romeine 8 sê ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Ons kan ons slegte gewoontes, ons vrese, ons bekommernisse oorwin DEUR Hom en IN Sy oorwinnings krag! Ons leef voorwaar vandag in moeilike tye, maar in Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Paasfees is ‘n tyd van HOOP en OORWINNING oor alles wat Jesus vir ons kom doen het en steeds doen!  Mag elkeen ‘n geseënde Paasfees saam met julle geliefdes beleef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui