Die Sentraal-Karoo-polisie lê by Prins Albert beslag op dwelms ter waarde van R660 000

WES-KAAP – Die polisie in die Sentraal-Karoo-distrik het die onwettige dwelmhandel ‘n swaar slag toegedien met die konfiskering van dwelms na raming op R660 000 gevolg deur die arrestasie van ‘n man op die N1 naby Prins Albert. Die 28-jarige verdagte, ‘n Zimbabwiese burger, sal na verwagting op Vrydag, 22 Maart 2024 sy eerste hofverskyning maak.

Op Woensdag, 20 Maart 2024 het lede verbonde aan die Flying Squad voertuigkontrolepunte langs die snelweg uitgevoer toe hulle ‘n passasiersbus wat na Kaapstad onderweg was, afgetrek het. ’n Soektog van die passasiersbus het gevolg wat gelei het tot die ontdekking van ’n karton met twee sakke. By verdere inspeksie van die sakke het die lede 7 000 mandrax-tablette en 2 083 ecstasy-tablette met ‘n geraamde waarde van R660 000-00 ontdek.

In ‘n onverwante voorval, vroeër die week, 19 Maart 2024, het Groot Brakrivier-lede ‘n rooi Mercedes Benz by Langstraat, Groot Brakrivier voorgekeer. Terwyl hy die voertuig nader, het ‘n insittende dit verlaat en te voet gevlug. Die waaksame polisielede het agternagesit en die verdagte in ’n hoek vasgekeer. ’n Soektog na die verdagte het gelei tot die konfiskering van 785 Mandrax-tablette wat in sy besit gevind is. Die 50-jarige verdagte is daarna in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms.

Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die lede geloof vir hul waaksaamheid wat verseker het dat dwelms uit die strate verwyder word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui