’n 38-jarige Katolieke priester in Tzaneen is dood nadat hy twee keer in die kop geskiet is. Die skietery het Woensdag omstreeks 07:00 in ‘n kerk plaasgevind. Die polisie in Limpopo het ‘n uitgebreide soektog na die oortreder van stapel gestuur.
Die priester is glo deur ‘n onbekende verdagte na ‘n kleedkamer gevolg ná ‘n oggendgebed sessie vir kerklede. Kol Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die oortreder het die priester twee keer in die kop geskiet voordat hy van die toneel gevlug het. “By die ontvangs van die noodoproep het beide die polisie en mediese nooddienste dadelik gereageer. Die slagoffer is vinnig na ’n nabygeleë hospitaal vervoer, waar hy tragies dood verklaar is met sy aankoms.”
Ledwaba het gesê die priester se identiteit word weerhou hangende kennisgewing van sy naasbestaandes.
Lt-genl Thembi Hadebe, provinsiale kommissaris, het die moord-en-roof-eenheid opdrag gegee om die ondersoek te lei en die oortreder wat verantwoordelik is vir die “betreurenswaardige” misdaad vas te trek. Ledwaba het ‘n beroep op lede van die gemeenskap gedoen wat enige inligting kan hê om na vore te kom en met die ondersoek te help.
“Jy word versoek om lt-kol Richard Boshomane by 079 894 5501 of ao Phaladi Makola by 082 749 2233 te kontak. Alternatiewelik kan individue by hul naaste polisiestasie aanmeld of uitreik na die Stop Misdaadnommer by 08600 10111,” het hy gesê. .
