Die National Taxi Alliance (NTA) het ‘n nasionale stilstand gedreig sou daar nie aan sy eise voldoen word nie. Pendelaars is Donderdag gestrand gelaat nadat taxi-bedrywighede aan die Oos-Rand se Tembisa, Germiston, Benoni, Katlehong en Vosloorus opgeskort is.
Theo Malele, NTA-woordvoerder, het gesê ‘n busmaatskappy het ‘n kontrak gekry om op roetes te werk wat deur die taxibedryf gekoester word. Daarom behoort die bedryf ‘n 30%-belang in die kontrak te kry, het hy gesê. “Ons het daardie roetes ontwikkel, ons het hulle gekoester, maar owerhede het ‘n aandeel aan ‘n spesifieke busmaatskappy toegeken om langs daardie roetes te werk sonder dat ons behoorlik betrokke was,” het Malele gesê.
“Indien die owerhede on kragtig bly in die saak, sal die bedryf met geen ander keuse gelaat word as om die huidige stilstand in Ekurhuleni tot nasionale afmetings te eskaleer, en sodoende die mobiliteit van die massas as gevolg daarvan lamlê.
“Ons wil om verskoning vra vir die ongerief wat aan die passasiers en die gemeenskap in die algemeen veroorsaak is en ons doen ‘n beroep op owerhede om die taxibedryf se wrok as ‘n saak van dringendheid te hanteer,” het Malele gesê.
Kelebogile Thepa, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het gesê die staking het Donderdag begin en ontwrigtings veroorsaak. Sy het gesê beamptes hou die situasie dop. “Dit is onduidelik wat die oorsaak van die staking is, maar ondersoeke is aan die gang. Op hierdie oomblik kan ons nie oor die omstandighede spekuleer nie,” het sy gesê.
Mmatshikhidi Rebecca Phala, nasionale woordvoerder van die SA Nasionale Taxiraad (Santaco), het gesê die stilstand volg op ‘n onenigheid Woensdag tussen sy patrolleerders en die busmaatskappy. Sy het gesê dit het daartoe gelei dat wetstoepassers patrolleerders en veiligheidsbeamptes en van hul voertuie in hegtenis geneem het.
Eddie Mkhonto, woordvoerder van Santaco Ekurhuleni, het Woensdag gesê patrolleerders het busbestuurders weggejaag en gesê hulle moet nie op hul roetes opereer nie, so iemand het die polisie gebel, en hulle het die patrolleerders in hegtenis geneem. “Daardie roetes is ons brood en botter,” het hy gesê.
